ERT, die Vaal se trots
Die Etienne Rousseau Teater het weer iets vir almal hierdie maand.
SASOLBURG. – Die laaste maande van 2022 gaan ‘n baie besige, maar hoogs vermaaklike, tyd vir die Etienne Rousseau Teater te wees.
Op 16 Oktober is daar ‘n eenmalige vertoning van The ABBA Show – A Cinderella Story wat deur Mzansi ballet aangebied word.

Dit beloof om sommer ‘n groot plesierigheid te wees wat deur oud en jonk geniet sal word. Daar is nog kaartjies vir die vertoning beskikbaar by www.ertickets.com.
Vanaf 17 Oktober gaan die teater bykans elke dag vol kleuterspore en ondeunde laggies wees. Verskeie kleuterskole bied hul konserte en jaareindfunksies by die teater aan.
Volgens Herman van Niekerk word die teater al hoe meer gebruik vir skoolaanbiedings en dis nie net vir plaaslike skole nie. In die volgende maand of wat sal skole, insluitend dans-en balletskole van so ver as Alberton en die Oosrand by die teater optree.
Een van die hoogtepunte op die spyskaart is DIE OOG van Hoërskool Driehoek. Ter viering van die skool se 50 jarige bestaan, is ‘n spesiale toneelstuk geskryf.

Dit vertel die storie van die hoofmeisie en haar span wat probeer om die skool te red van ‘n “probleempie” wat ontstaan het. Die produksie kombineer toneel, dans en koorsang.
Die danse beeld die afgelope 50 jaar se musiek-eras uit en ‘n groot groep leerders het hard geoefen om die musiek van die 60’s, 70’s, 80’s, 90’s en 2000’s te laat herleef.
Verder kry die skool se koor en cheer leaders ook geleentheid om hul talente ten toon te stel. Bespreek jou kaartjies by www.ertickets.com vir 26 of 27 Oktober teen R80 per persoon.
Herman van Niekerk, ERT se bestuurder, sê dis ook goed om te sien dat hotelle en gastehuise in die omgewing al hoe meer spesiale tariewe gee vir mense wat wil oorslaap na ‘n vertoning by die ERT.
Van die groepe wat optree verkies ook om oor te slaap eerder as om in die nag terug te ry stad toe. So genereer die teater ekstra inkomste vir plaaslike besighede.
Vir meer inligting oor die teater en produksies op pad teater toe, besoek gerus hul webblad https://www.etiennerousseautheatre.co.za/.
