Mooivaal nooi Midvaal vir ontbyt
Mooivaal Media, die grootste mediahuis in die Vaaldriehoek, het op Donderdag 6 Oktober een van die beste munisipaliteite in die land, die Midvaal Plaaslike Munsipaliteit, vir ontbyt genooi.
Die ontbyt is by die Merchant Business Class Hotel in Springbokweg in Highbury, Meyerton gehou.
Volgens Anette Mundell, die organiseerder van die geleentheid, was die hoofdoel om die munisipaliteit te bedank vir hul volgehoue ondersteuning deur die jare.

Die ontbyt het die munisipaliteit ook die geleentheid gegee om sy uitvoerende burgemeester, rdh. Peter Teixeira, en sy burgemeesterskomitee formeel aan Mooivaal Media se redaksiepsan en advertensie-afdeling voor te stel.
Maretha Lombard, Mooivaal Media se advertensiebestuurder, het Midvaal se span meer oor die struktuur van die besigheid geleer en hul in kennis gestel van die onlangs verandering wat by Mooivaal Media plaasgevind het.

Mooivaal Media, wat voorheen gedeeltelik deur Caxton en gedeeltelik deur Media24 besit is, is onlangs volkome deur Caxton oorgeneem nadat Caxton Media24 se aandeel oorgekoop het.
“Moenie vrees nie. Niks het by Mooivaal Media verander nie. Besigheid gaan aan soos normaal.
Dit beteken bloot dat ons nou 100% deur Caxton besit word.
“Ons publikasies is steeds dieselfde en bereik steeds dieselfde lesersmark as altyd en meer belangrik is ons steeds relevant tot ons lesers,” het Lombard tydens die ontbyt gesê.

“Ons is baie dankbaar vir jul ondersteuning en samewerking deur die jare en ons hoop dat hierdie vennootskap sal voortduur,” het Mundell, ’n advertensiebestuurder en spanleier, by Mooivaal Media tydens die ontbyt gesê.
Die Midvaal Plaaslike Munisipaliteit se burgemeester, rdh. Peter Teixeira het tydens die geleentheid die gebaar verwelkom en gesê die media moet nooit van hul verantwoordelikheid wegskram om die munisipaliteit verantwoordbaar te hou nie.
“Waar ons verkeerd was moet ons ook tot verantwoording gebring word. Moenie sag op ons wees net omdat ons een van jul kliënte is nie.
“Ons is daar om die mense te dien en moet verantwoordbaar gehou word,” het Teixeira gesê.


