Stylvolle Mev. Vaal mik vir 2023 se Afrika-kroon
“Ek strewe daarna om met deernis te lei, en om ondersteunend, opbouend en liefdevol te wees,” sê Julien du Plessis
VEREENIGING. – Die stylvolle Julien du Plessis, die Vaaldriehoek se Mev. Vaal 2022, is iemand wat haar nie blind hou vir probleme in die gemeenskap nie, maar sy laat nie toe dat dit haar positiewe lewensuitkyk verdof nie. Waar sy sosiale uitdagings raaksien, maak sy met harde werk en baie gebed ‘n merkbare verskil.
Julien is die houer van die Mev. Vaal-titel sowel as van Mrs Rainbow Nations 2022. Daarby sy is ook ‘n finalis in die Mrs Africa 2023-wedstryd.
Dié trotse ma van twee seuns is die konsessiehouer van Ascot Diet Clinic in Drie Riviere en finansiële bestuurder van haar man se ingenieursmaatskappy.
Vir Julien draai die lewe nie net om die uiterlike nie. Ware skoonheid kom van ‘n innerlike vrede en geloof, en dit sien mens duidelik in dié energieke vrou se sprankelende oë.
Buiten al haar ander verpligtinge is sy ook ‘n Sondagskoolonderwyseres en bedieningsleier by Chrisma Fellowship, en nie skaam om haar liefde vir die Here te bely nie.
Sy beskou dit as haar lewenstaak om mense deur die Woord van God en met Sy leiding te inspireer. “Ek strewe daarna om met deernis te lei, en om ondersteunend, opbouend en liefdevol te wees,” sê dié sjarmante donkerkop.
Haar lewensmotto vat haar lewensuitkyk in ‘n neutedop vas: “Train your mind to see the good in every situation”. Sy vind daarom ook groot aansluiting by die African Queen Foundation se motto: “Dignity for all / Waardigheid vir almal”.
Een van die African Queen Foundation se inisiatiewe, in samewerking met Africa Pageants, is om sanitêre voorrade aan minderbevoorregte vroue en meisies te verskaf.
“Die Afrika-kontinent het talle arm gemeenskappe wat nie fondse vir weggooibare sanitêre doekies het nie. Baie meisies mis skool tydens menstruasie omdat hulle nie toegang tot sulke beskermende drag het nie. Die African Queen Foundation se doelwit is om soveel as moontlik meisies en vroue van herbruikbare sanitêre doekies te voorsien om hulle hul waardigheid terug te gee en hulle in staat te stel om voort te gaan met hul daaglikse lewens,” sê Julien.
Africa Pageants se finaliste help elke jaar met bewusmaking en insamelings hiervoor, en tot dusver is meer as 5 000 meisies en vroue al met ‘n volhoubare en herbruikbare oplossing gehelp.
Julien het onlangs ‘n “High Tea with a Purpose” ten bate van die projek by Manna Deli aangebied, waar teenwoordiges aangemoedig is om Dignity Dreams-pakkette wat die nodige toerusting vir meisies bevat, te koop en in behoeftige gemeenskappe te versprei.
* Mense wat graag meer inligting oor die projek wil hê, kan Julien e-pos by julienduplessis60@gmail.com.
Fotografie: Susan Fourie




