Local newsNewsNews

Ervare hokkie bokkie hou Vaal se naam hoog by World Cup Grand Masters

VANDERBIJLPARK. - Toe die World Cup Grand Masters-hokkietoernooi aan die begin van Oktober in Kaapstad aangebied is, was die Vaal deel van die aksie, danksy Estelle Rigg wat vir die SA span uitgedraf het.

Estelle wat oor baie jare (sowat 30 jaar) as speler en skeidsregter deel is van die hokkie gemeenskap in die Vaal, was die enigste plaaslike speler wat vir die span gekies is (dames 60 jaar en ouer).

“Dit was vir my ‘n groot voorreg om by die span ingesluit te word,” vertel Estelle opgewonde. Die toernooi het van 1 tot 10 Oktober
plaasgevind.  Die kersie op die koek is natuurlik dat SA teen Engeland in die eindstryd te staan gekom het.

SA het met 1-0 geseëvier en die SA spelers kon met goue medaljes na hul huise terugkeer.
Om op hierdie gevorderde ouderdom ‘n aksie sport soos hokkie te beoefen, is nie almal beskore nie.

“Ek het ook vir ‘n tyd lank ophou hokkie speel, maar toe byt die gogga my weer en ek sluit by Shumabas, ‘n hokkieklub in Johannesburg aan,” vertel Estelle.

“Toe daar proewe gespeel moes word in die verskillende ouderdomsgroepe, het ek nie regtig hoop gehad om die span te haal
nie, ” vertel Estelle.

Maar sy het die span vir Gauteng gehaal, daarna moes sy Durban toe vir SA proewe … en siedaar!

“Daarna het training camps by Bryanston Astro gevolg. Dit het oor vier weke gestrek en ek het so baie geleer. Dit was ‘n strawwe program. Na afloop van elke training camp is ons gemonitor – onder meer vir bloeddruk. Ek het elke oomblik geniet en wou net oefen en beter doen,” vertel Estelle.

Estelle Rigg het die Vaal se naam as deel van die SA vroue hokkiespan (60 jaar en ouer) hoog gehou.

Die oefenkamp het beslis gewerk. Die dames het ‘n gedugte span geword wat saamgewerk het sonder jaloesie of afguns teenoor mekaar – ‘n wenspan is gekweek.

“Wat my die meeste sal bybly is dat ek op hierdie laat ouderdom geleer het om hokkie te speel en hokkie te dink.

“Ek sal die komplimente wat ek van my afrigter en medespelers ontvang het vir altyd koester,” sê Estelle.
“Hierdie was die grootste en wonderlikste voorreg wat ek uit Sy Hand ontvang het.

“Ek is gesond en my liggaam is nie meer 20 jaar jonk nie, maar ek kan nog speel,” sluit Estelle af.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Elsje Vermeulen

Elsje Vermeulen is the senior editor of MooiVaal Media and editor of the Vaalweekblad. Well-known for her award-winning photography and heartwarming stories, she always has the readers’ best interests at heart. Email: elsje@mooivaal.co.za
Back to top button