Dis vier uit vier vir Hoekies se eerste krieketspan
Hoërskool Driehoek se eerste krieketspan het al hul wedstryde op toer gewen.
VANDERBIJLPARK – Hoërskool Driehoek se eerste krieketspan het amok gesaai onder hul teenstanders tydens hul kriekettoer.
In hul eerste wedstryd op 1 Julie het hul Hoërskool Wagpos met 137 lopies geklop. Christiaan Schoeman het 57 lopies van 55 balle aangeteken, terwyl Louis Pieterse en Drikus Meiring Wagpos se kolwers vinnig hokgeslaan het.
Louis het 3 paaltjies in 5 beurte geneem en net 22 lopies afgestaan. Drikus het 3 paaltjies in 3 beurte gekry en net 13 lopies afgestaan.
Twee dae later het hulle die Hoërskool Rustenburg se o15 en eerste krieketspan aangedurf. Die Hoekies het die o15-span met 5 paaltjies geklop.
Duan Taljaard het homself met bal in hand oortref. Hy het 5 paaltjies vir slegs 9 lopies in 5 beurte geneem.
Daarna het hul Hoërskool Rustenburg se eerstespan met 40 lopies geklop. Christiaan Schoeman het 55 lopies aangeteken, terwyl Chris Saayman 3 paaltjies vir 34 lopies in 10 boulbeurte gevat het.
Gister het die Hoekies hul toer afgesluit deur Hoërskool Frikkie Meyer met 7 paaltjies huis toe te stuur. Louis Pieterse het 56* van 43 balle geslaan, terwyl Durandt Lubbe 3 paaltjies vir 20 lopies in 4 beurte gekry het.
