Local newsNewsSport

Doug Slater se nalatenskap leef voort

Hy was een van Vereeniging se kleurryke inwoners wat 'n positiewe stempel op die stad se mense afgedruk het.

Vir baie inwoners van Vereeniging wat deur die jare by liggaambou betrokke was, sal een naam soos ʼn  paal bo water uitstaan. Doug Slater.

Doug en sy broers Bill en Rocky, en susters Gail en Kim was almal van jongs af gesondheidsbewus.

Met ʼn pa wat ʼn bekende bokser was en sy kinders van kleins af op die voordele van fisiese oefening en die gevare van rook en alkohol gewys het, kon dit nie anders nie.

Op die jong ouderdom van 16 was Doug reeds ʼn ywerige liggaambouer wat aktief in verskeie gimnasiums gewerk het. OP 18 ontmoet hy die gholfspeler Gary Player en kry hy die gesogte pos as bestuurder in een van Gary se prestige gyms.

Doug se reputasie het saam met sy indrukwekkende spiere gegroei en in 1975, op die ouderdom van 29, koop hy ʼn gimnasium in Vereeniging.

Slater Health Clubs het dwarsdeur die Vaaldriehoek opgeskiet – van Vereeniging en Drie Riviere tot Vanderbijlpark en Sasolburg. Selfs so ver as Kroonstad.

Vir liggaamsbouers van Vereeniging was Doug die nommer-een naam by wie hulle gaan kers-opsteek het as hulle hulp nodig gehad het om voor te berei vis nasionale kompetisies. Sy charismatiese persoonlikheid het hom ongetwyfeld een van die mees geliefde mense in die Vaaldriehoek en Suid-Afrika se liggaamsbou-sirkels gemaak.

Gedurende sy liggaamsbouloopbaan het hy self ook verskeie hoogtepunte beleef. Die grootste daarvan was toe hy in 1988 op die ouderdom van 42 die SA Liggaamsbou-kampioenskap se kategorie vir 40-jariges en ouer gewen het. Daar was groot hartseer toe hy in 2011 op die ouderdom van 65 respiratoriese versaking ontwikkel en op 21 Desember daardie jaar onverwags gesterf het.

Hoewel hy streng, gedissiplineerd en toegewyd in die gym was, sal meeste van die liggaamsbouers wat deur hom afgerig is, hom dalk die beste onthou as ʼn ware gentleman en gesinsman met ʼn groot liefde vir mense.

ʼn Man wat gewis ʼn positiewe invloed op talle inwoners van Vereeniging gehad het.

 

Bo: ‘n Foto uit ‘n Vaalweekblad van 2002. Doug Slater is hier heel links.

Doug Slater in 1988 toe hy die SA Liggaamsbou-kampioenskap se kategorie vir 40-jariges en ouer gewen het.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button