Santie – sy sorg dat dinge vlot verloop by ouetehuis
Santie Tennant, bestuurder van die Avondrus Ouetehuis in Vereeniging, het op 1 November 'n volle 40 jaar by die ouetehuis gevier.
VEREENIGING. – Omgee en opoffer.
Dis woorde wat Santie Tennant (66), die bestuurder van die Avondrus Ouetehuis in Duncanville, die beste opsom.
Outehuispersoneel sê soms Santie is “kwaai”, maar die meeste van hulle is dit eens dat sy regverdig is.
Santie erken dat sy ietwat van ‘n perfeksionis is, maar dit is te verstane aangesien sy die een is wat moet verseker dat dinge by die ouetehuis vlot verloop!
Dié ystervrou staan al vir vier dekades aan die stuur van die ouetehuis, en soos ‘n goeie skeepskaptein het sy die ouetehuis en sy inwoners ook deur kalm en stormagtige waters gestuur.

“Ek sê altyd vir die nuwe personeel: ‘Julle moet weet hierdie is ‘n WONDERlike plek. Elke oggend as jy hier instap, dan WONDER jy wat is volgende,’” sê Santie skertsend.
“Daar is elke dag uitdagings,” vertel Santie.
Dit gaan egter oor hoe jy hierdie uitdagings bestuur – en as dit by bestuur kom is Santie nou al gesout.
Sy werk al immers al by die ouetehuis sedert 1982 en het op 1 November ‘n volle 40 jaar as bestuurder gevier.
Santie sê sy het na skool vir sowat nege jaar vir Volkskas-bank gewerk, maar die koms van haar eersteling, het Santie laat herbesin oor haar loopbaan.
“Ek het net gevoel met ‘n baba en die bank se lang ure moes ek ‘n plan maak,” vertel sy.
So het dit gekom dat Santie by Avondrus begin werk het as sekretaresse. Een van die eerste dinge wat sy by Avondrus gedoen het was om orde te skep.
“Daar was geen stelsel nie. Die waglyste was in ‘n toestand. Ek het begin deur dit alfabeties te rangskik,” vertel sy.
Na sowat vyf tot ses jaar het sy dinge reggeruk en is Santie bevorder tot bestuurder.

Santie bestuur die ouetehuis soos ‘n besigheid, hoewel dit eintlik ‘n welsynsorganisasie is.
Sy vertel dat die sakeman, mnr. Mike Bricic, wat vir jare in die ouetehuis se raad gedien het, haar mentor was.
Die situasie by die ouetehuis het oor die jare drasties verander.
In die verlede was die ouetehuis altyd vol en dit was nie ongewoon om ‘n waglys van vyf jaar te hê nie.
Moeilike ekonomiese tye en veral die inkrimping van die staalbedryf het veroorsaak dat mense nie meer die ouethuis kan bekostig nie, gevolglik is daar vandag heelwat minder inwoners.
Tog het die ouetehuis se raad, Santie en die publiek in hierdie moeilike omstandighede gesorg dat die ouetehuis kop bo water hou.
Avondrus se perseel is ook nie meer uitsluitlik ’n ouetehuis nie.
Geboue op die perseel word uitverhuur aan organisasies soos Lifeline, die Sedibeng Children’s Haven en die Vaal Elderly Organisation.
Santie glo dinge sal weer beter gaan.

Sy reken dat die pandemie ‘n uitdagende tyd was vir ouetehuise.
Die afsondering wat mense moes verduur was waarskynlik die ergste.
Santie het in Mei 2020 haar pa (66) aan die dood afgestaan.
Sy kon weens die feit dat sy met ouemense werk nie die begrafnis bywoon nie en haar ma ook nie.
Hulle moes die begrafnisdiens op Zoom kyk.
Haar ma is 11 maande daarna ook oorlede.
Volgens Santie was daar genadiglik nie ’n enkele sterfte by die Avondrus Ouetehuis weens Covid nie.
Oor al die staaltjies en intriges wat al by die Avondrus afgespeel het kan Santie ‘n boek skryf – soos toe stakende werkers vuil doeke in die straat voor die ouetehuis gestort het tydens ’n loongeskil.
Inwoners wat daartoe in staat was moes uithelp om mede-inwoners te versorg.
Daar was ook heelwat hoogtepunte in Santie se loopbaan, soos toe die personeel haar na 30 jaar in diens van die Avondrus Ouetehuis verras het met kaartjies en boodskappe.
“Ek kan nie sê ek is ooit spyt ek het hier kom werk nie. My oorle man het altyd gesê ek sal beter in die korporatiewe wêreld aard maar, ek dink nie ek is die tipe nie. Ek hou daarvan om ook met mense te werk.”


