VF+ dien klag by MRK in oor riool in begraafplaas
Die VF Plus sê hy het ʼn klag by die menseregtekommissie (MRK) ingedien omdat die munisipale bestuurder van die Emfuleni-plaaslike munisipaliteit, Lucky Leseane, na ʼn jaar nog niks gedoen het om die rioolstorting in die Vanderbijlpark-begraafplaas stop te sit nie.
VANDERBIJLPARK. – ʼn Rioolpyp het ʼn jaar gelede langs die begraafplaas gebars en in stede daarvan om die pyp te herstel, het die munisipaliteit ʼn sloot gegrawe om die riool te herlei.
Die riool vloei nou in die begraafplaas.
Na die afgelope tyd se swaar reën het die situasie vererger en is grafte enkeldiep onder water en riool.
Volgens Gerda Senekal, VF Plus-raadslid by die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit, het die MRK die erge rioolbesoedeling van die Vaalrivier en die munisipaliteit in Februarie 2021 tot ʼn menseregteskending verklaar.
Senekal sê: “Selfs met die ingryping van die weermag en die nasionale departement van water en sanitasie, duur die rioolbesoedeling in Emfuleni ongehinderd voort.
“Die VF Plus het daarom besluit om ʼn bykomende klag by die MRK in te dien oor die besoedeling van die Vanderbijlpark-begraafplaas.
“Die begraafplaas is tans ʼn gesondheids- en veiligheidsrisiko en dit is jammer dat die munisipaliteit geen dringendheid toon om die situasie aan te spreek nie.
“Emfuleni verdien beter as die ANC wat respek vir niks en niemand het nie.”


