Local newsNewsNews

Ek sê maar net…

RUBRIEK.- Ek en die nuwe rekenaarstelsel stamp so bietjie koppe. Dit gebeur mos maar ...

RUBRIEK. – Dit was nou ‘n affêre en ‘n half. Die afgelope paar weke moes ons almal (dis nou ieder en elk by Mooivaal Media) nuwe stelsels onder die knie kry.

Dis suiwer genade dat die afgelope weke se Vaalweekblaaie nie onderstebo en agterstevoor uitgekom het nie. Gelukkig het die produksiespan kop gehou en deur al die druk gedoen wat gedoen moes word.

Die redaksiespan sukkel nog so hier en daar om die twee nuwe stelsels te wys wie is baas. Die een vir stories laai en die ander een waarop die uitleg en proefleeswerk gedoen word.

Dit het alles begin toe die rekenaar spesialiste al die pad van Johannesburg gekom het en ons rekenaars so stuk-stuk met die nuwe stelsels gelaai het.

Hulle het probeer opleiding gee en ons het geluister, maar ‘n mens weet mos eers of jy weet wat jy weet wanneer jy dit self moet doen.

Vir die groot eerste probeerslag het ons almal by die kantoor saamgetrek. Ek dink nie daardie gebou het geweet wat hom tref nie. Skielik was daardie oopplan kantoor gepak met mense en hul rekenaars.

Joernaliste wat fronsend na skerms staar, verkeerde knoppies druk en uitlegpersoneel wat begin lag omdat die stories geheel verkeerd by hulle uitkom.

Die arme manne van Johannesburg het hul hande vol gehad, want ons het letterlik met oop skootrekenaars agter hul aangeloop met die een of ander probleem.

Op ‘n stadium kon ek sweer ek het nie die program op my rekenaar nie, want my prentjie lyk dan nie soos die ander s’n nie. Blyk toe ek het weer die verkeerde knoppie gedruk!

Maar nou ja, so trek ons al by week drie en ek het darem al ‘n paar dinge vir myself uitgewerk. Kry die stories gelaai en die foto’s ook en dan kan ek darem die blaaie onder oë kry om te lees.

Ek is net dankbaar ek is nie ‘n uitlegkunstenaar nie, want dit lyk vir my geheel onverstaanbaar. Nie dat ek al ooit regtig uitleg verstaan het nie.

Het wel jare der jare gelede elke maand reg agter die uitlegkunstenaar gesit en kyk hoe hy dit doen. Was op Corel Draw 4 of 5 of iets in daardie voege.

Ons het nog foto’s met filmkameras geneem en die fisiese foto’s moes na die drukker gestuur word. Rekenaars was nie gevorderd genoeg om foto’s te redigeer nie en ons het ook nie ‘n ligtafel gehad nie.

So het ons dan die foto’s met kleefband teen die vensters geplak en op die agterkant van elke foto met ‘n liniaal en pen die lyne getrek waar die foto ge-crop moes word.

Dan moes mens nog ‘n som ook uitwerk om te bepaal hoe groot die foto gedruk moes word. Ek is baie bly ons is by daardie dae verby! Nou se dae hoef mens mos maar net knoppies te druk en siedaar die digitale foto lyk soos dit moet lyk en van somme maak is daar genadiglik geen sprake meer nie.

Dit was mos nog nooit my sterkpunt nie. My brein slaan bot toe as dit kom by syfers. Ek onthou hoeka hoe een van my arme wiskunde onderwyseresse op hoërskool my eendag te midde van ‘n les so gekyk het en gesê het: “Gerda, jy hou nie van wiskunde nie, doen jy?”

Ek het haar ‘n baie eerlike “nee juffrou” gegee. Of die ander keer wat die onnie in die meetkundeklas wou weet wat sien ek op die bord. Ek het die baie strepe en hoeke so bekyk en uiteindelik my antwoord gegee: “’n Pendeltuig op pad maan toe, Juffrou.”

Ja, aan my was geen salf te smeer met syfers nie, maar ek is trots op myself en my kollegas dat ons die nuwe stelsels nou al 99% baasgeraak het. Sela!

Ns. Net nadat ek hierdie geskryf het, het ek my weer in die nuwe stelsel vasgeloop. Ag ja… Ek leer nog.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button