Uitnodiging aan burgemeester: “Kom ry sélf ons paaie!”
Inwoners van Sonlandpark versoek al lank dat die padoppervlak in Skippie Bothaweg, Langrandweg en verskeie ander strate in Sonlandpark in stand gehou word en dat slaggate reg gemaak word.
VEREENIGING. – Nadat versoeke op dowe ore geval het, het inwoners nou die burgemeester van die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit, rdl. Sipho Radebe, en die burgemeesterskomiteelid vir openbare werke, rdl. Vincent Jones, genooi om self op Sonlandpark se paaie te kom ry.
“Beste mnr. Burgemester en burgemeesterskomiteelid Jones. Julle word uitgenooi om met Langrandweg af te ry teen 60km/h en links in Skippie Bothaweg af te draai sonder om uit te swaai om die gemeenskap by die Total-vulstasie in Skippie Bothaweg in Sonlandpark te ontmoet,” lui die uitnodiging.
Die afspraak wat inwoners met die burgemeester versoek is vir 17:00 op Vrydag 25 November.
Die burgemeester en Jones is gevra om voor 23 November te RSVP.
Blykbaar word daar nog vir bevestiging gewag of hulle daar sal wees.




