Local newsNewsNews

Dr. Amanda Lombard – ‘Dis tyd vir ‘n nuwe ritme’

Eurekaskool se geliefde en jarelange hoof, Dr. Amanda Lombard tree uit die onderwys. Lees meer oor die merkwaardige vrou.

VEREENIGING. – Dr. Amanda Lombard is sedert 2005 hoof van die Eurekaskool vir kinders met erge fisiese en verstandelike gestremdhede. Nou het die tyd aangebreek om die skool, wat sy as haar baba beskou, te groet.

“Daar is mos maar ‘n tyd vir alles. En dis nou tyd vir my om af te tree,” vertel sy. Die gebore en getoë Johannesburger het haar in 1991 in Vereeniging gevestig nadat haar man ‘n pos by die NWU Vaal kampus gekry het.

Dr Lombard saam met haar dogter Anrike, tydens ‘n onlangse besoek aan Europa.

“Jy weet hoe is die Vaaldriehoek,” lag sy. “Hier huil mens twee keer, die eerste keer as jy intrek en die tweede keer as jy moet weggaan.”

Nie dat sy van plan is om die area te verlaat nie. Na haar aftrede beplan dr. Amanda om meer te reis en tyd by hul vakansiehuis in Hartenbos deur te bring.

“Ek gaan beslis die personeel en kinders van Eurekaskool mis, maar ek het volle vertroue in die span wat agterbly. Ek weet die skool en kinders is in goeie hande,” glimlag sy en voeg by dat omdat sy die oorgang so maklik moontlik wil maak, volgende jaar se beplanning reeds gedoen is.

Dr. Amanda het die afgelope 40 jaar by verskeie kleuterskole, hoërskole en selfs ‘n onderwyskollege klas gegee. Sy was ook 13 jaar die opvoedkundige sielkundige by Destinataskool in Meyerton alvorens sy die hoofpos by Eureka aanvaar het.

Dr. Amanda saam met haar twee kleindogters. Hulle hou vir ouma lekker besig.

“Ek het my jare in die onderwys baie geniet en is nie ‘n dag spyt oor my loopbaankeuses nie,” sê sy.

Een van die hoogtepunte van haar tyd by Eureka was die keer in 2015 toe die skool se leerlinge en personeel almal see toe was vir ‘n week.

“Dit was ongelooflik om daardie kinders se gesigte te sien toe hul die eerste keer op die strand staan en die see sien. Daarna wou hul net almal in die see swem.

“Ek onthou die manne het in die water gaan staan en gekeer dat hulle nie te ver in die see ingaan nie,” onthou sy met ‘n glimlag. Ander hoogtepunte sluit in die opening van die skool se Outisme Eenheid.

“Ons was maar bietjie senuweeagtig om dit te begin, maar het gou besef dit was die regte ding om te doen. Vandag het die eenheid al 12 klasse.”

Die skool het sedert 2005 ook baie gegroei en die personeel het amper verdubbel. “Ek het geleer dat mense nie vrese moet hê nie. Jy moet doen wat jy moet doen. Verandering is goed.

“Natuurlik, wat ons ook al by die skool bereik het, was ‘n spanpoging. Dis maklik om te droom en te doen as almal saam droom en doen.”

“Ek glo ek sal gou in ‘n nuwe ritme inval. Dit sal ook vir my besonders wees om meer tyd met my twee kleindogters (3 en 5 jaar oud) te spandeer.” Dr. Amanda se man is in 2018 skielik oorlede.

“Ek het net weer besef ons wik, maar God beskik.” Haar sterk geloof het haar deur die verlies gedra.
Die Lombards het twee kinders. Haar seun is ‘n ingenieur wat tans kontrakwerk in Kathu doen en haar dogter volg in haar ouers se onderwysspore.

Haar ouers leef nog albei en woon in Roodepoort en haar jonger broer bly in Australië.

Dr. Amanda is onlangs aangewys as die Vaal se Ambassadeur vir persone met gestremdhede vir die jaar deur die Golden Triangle Chamber of Commerce. Oor die erkenning is sy dankbaar.

“Dit was vir my ‘n groot verrassing. Wat ek doen het ek nog altyd gedoen omdat ek ‘n passie vir kinders met probleme het.”

Die skool se personeel en kinders beplan verskeie afsluitingsgeleenthede vir hul geliefde hoof en almal maak seker dat daar genoeg snesies sal wees, want hul weet die trane gaan vloei.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button