Local newsNewsNews

Ek sê maar net…

RUBRIEK. - Slaggate, kragonderbrekings, rugby en Afrikaans. Lees hier meer...

RUBRIEK. – Dit was nou regtig ‘n wille-wragtag week. Eers swem ons amper winkels toe, al wat ‘n dam is loop oor en toe die son weer oë wys, is dit net slaggate waar jy kyk.

Maak nie saak in watter rigting ek Mich (is nou my Ford) se neus druk nie, êrens gaan ek my 4 x 4-vaardighede op die proef stel.

Nie dat ek veel gevorderde bestuursvaardighede het nie, maar hier in die Vaal is dit so goed jy gaan elke dag op ‘n gevorderde bestuurskursus.

Elke keer as jy die huis haal sonder om in ‘n ongeluk betrokke te wees, of om ‘n band te verloor, is dit so goed jy verdien twee goue sterre en ‘n sertifikaat.

Maar ja, waar was ek nou weer? O ja… die gate was net mooi aan die opdroog toe tref die allervreeslikste nuus ons ore. Charlize Theron en haar gewraakte uitsprake oor Afrikaans.

Ek dag my hart gaan staan. My taal uitsterf en nutteloos? Gmph. In jou drome suster! In hierdie land van ons en in ons buurland, Namibië leef ons Afrikaans. Droom ons Afrikaans. Skryf ons Afrikaans en baklei ons in en vir Afrikaans. So sal dit bly. Ons taal is ons taal en klaar.

Oor haar uitsprake dat sy eers met Engels te doene gehad het toe sy in Amerika beland het, gaan ek liewer net ‘n sluier trek.

Weet nie in watter skool was die vrou nie, maar Engels was van graad 1 af een van my verpligte vakke. Nog iets wat sy vergeet het, was dat Engels al van toenterjare af een van die amptelike landstale was. Eish.

Gelukkig het die storm (ook die een in my hart oor Afrikaans) so bietjie bedaar teen die tyd wat die naweek aan die voordeur kom klop het. Ek was maar versigtig vir die naweek.

Jy weet, die vorige naweek was nie so suksesvol vir Suid-Afrika se sportspanne nie. Om alles te kroon, toe slaan beurtkrag Saterdagmiddag, so ons kon eers die tweede helfte van die Springbokwedstryd sien.

Maar wat ‘n tweede helfte! Was lekker om soveel drieë en hardlooprugby te sien. Klop my hart sommer pure groen en goud.

En was Saterdagaand nie ‘n lekker aand om buite om ‘n vuur te sit nie. Geen reën nie. Geen wind nie. Net goeie geselskap om ‘n perskehoutvuur. Lekker man.

Ag ja, alle goeie dinge kom tot ‘n einde. Skop ons Sondag af met die goeie nuus dat Eskom nie op die Sondag beurtkrag gaan toepas nie.

Ongelukkig het ELM die memo gemis, want 09:00 toe is die krag af. Neem hulle 45 minute om hul fout te erken en weer lig op die onderwerp te plaas.

Sondag laatmiddag plak ek my voor die TV, skootrekenaar aan en begin verwoed soek na die week se foto’s en notas om artikels te skryf.

Ek was by artikel nommer twee. Buite het die son al nag gesê en binne het die muskiete se eerste hallo daar’s om my ore opgeklink, toe sit ons skielik in die duister.

Sommer so. Sonder taal of tyding. Ma steek kerse aan. Ek tik verwoed voort in die duister. Die skootrekenaar het darem mos batterykrag al kan ek nie op die stelsel inteken nie.

Probleem kom toe ek my notas wil besigtig. Kry ek maar oorle Pa se koplampie in die hande en daar sit ek soos ‘n wafferse myner en stories skryf.

Was baie verlig toe die krag aangaan, maar ag, ek het nog nie eens daaraan gedink om vir my koffie te gaan maak nie, toe is dit weer af.

Dié dat ek sê dit was ‘n wille-wragtag week. Hopelik is daar meer lig en minder storms in die vooruitsig. Sela!

*Die rubriek het oorspronklik in die Vaalweekblad van 23 November 2022 verskyn.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button