Vanderbijlpark se geliefde juffrou Hansie oorlede
Sy is op 29 Oktober in die Emfuleni MediClinic oorlede en sal altyd onthou word as ’n sonskynmens wat almal se harte geraak het.
VANDERBIJLPARK – Juffrou Hansie Lubbe was nie sommer net nog ’n onderwyser nie … sy was ’n geliefde opvoeder wat diep spore by verskeie plaaslike laerskole getrap het.
Sy het ook tot ’n uitgelese groep behoort wat met drie merietetoekennings deur die destydse Transvaalse Onderwysdepartement (TOD) vereer is.
Juffrou Hansie is op 14 Februarie 1941 op Potgietersrus gebore en het in Middelburg grootgeword.
Tydens haar studies aan die Heidelberg Onderwyskollege het sy vir ’n pos by Laerskool Noordhoek aansoek gedoen.
Dié aansoek was suksesvol en sy het deel geword van die skool se heel eerste personeelkorps onder leiding van dr. Greyling.
Daarna het sy haar merk by Laerskool Frikkie Meyer gemaak, voordat sy weer as stigterspersoneellid betrokke was toe Laerskool SE 7 (vandag Laerskool Kollegepark) sy deure geopen het.
Sy het later by Laerskool Emfulenipark aangesluit, waar sy as Departementshoof: Grondslagfase (Juniors) gedien het.
Haar passie vir kinders en die onderwys het daartoe gelei dat sy oor die jare gereeld die nuusblaaie gehaal het vir haar skoolprestasies en betrokkenheid by kunsfeeste.
Sy was ook ’n kranige sportliefhebber wat onder meer tennis en hekkies by die skool afgerig het.

‘n Leeftyd se liefde
Sy word oorleef deur haar man en beste vriend van 60 jaar, Mike Lubbe, wat eenders geseën was met ’n passie vir die onderwys.
Hy het gedurende sy loopbaan by Laerskool Frikkie Meyer, Laerskool Kollegepark en Hoërskool Driehoek skoolgehou.
Buiten hul toegewyde liefde vir hul kinders en uitgebreide familie, het die egpaar talle karavaanvakansies geniet en graag die dansvloer betree (Hansie was veral ’n groot Elvis Presley-bewonderaar).
Ná haar aftrede was juffrou Hansie met goeie gesondheid geseën.
Sy het egter onlangs ’n nierkwaal ontwikkel en is binne ’n week skielik oorlede.
Gedenkdiens
Haar gedenkdiens word op Vrydag, 6 November om 11:00 uit die Gereformeerde Kerk Trinitas gehou.
