Local newsNewsNews

Ons onthou: Die Vaal se koningin van waterverf skilderye

'n Skatkis van herinneringe - dis wat Charlotte Bresser ontdek het toe sy die gevierde skilderes, Juliana Paton se plakboeke oorgedoen het.

VAALPARK. – Charlotte Bresser, skilder en voormalige kunsdosent, het onlangs die groot werk aangepak om Juliana Paton, voormalige doyenne van skilderkuns, se plakboeke in meesterstukke te omskep.

Charlotte Bresser blaai deur een van die besonderse plakboeke.
Foto: Gerda Bruinette

“Ek het die oorspronklike plakboeke by een van Juliana se dogters gekry. Dit het uitmekaar geval en ek het dit bladsy vir bladsy oorgeplak,” vertel Charlotte wat beplan om die boeke aan die familie terug te skenk sodra die projek voltooi is.

Die plakboeke gee ‘n interessante blik op die besonderse vrou se lewe vanaf 1971 tot 2002. In die boeke het Juliana koerantknipsels van haar uitstallings geplak en foto’s waar sy en kunstenaarsvriende bymekaargekom het.

Daar is ook briewe van bewonderaars, skole en kerke vir wie sy skilderye geskenk het en selfs kaartjies wat sy met waterverf geskilder het.

Charlotte en Juliana se paaie het in die vroeë 80’s gekruis toe Charlotte kunsklasse by Juliana geneem het. “Sy het ‘n groot invloed op my werk en my lewe gehad,” vertel Charlotte.

Sy het ‘n omgeehart gehad en met ‘n fyn aanvoeling vir die mooi in die lewe. Juliana het vele van haar skilderye vir liefdadigheid geskenk en het oral gaan uitstal waar sy genooi is.

Juliana was bekend vir haar meesterlike waterverfskilderye.

“Sy was vir jare deel van die Water Colour Society of South Africa en het later self in die keuringskomitee gedien. Juliana was ook een van die stigterslede van die SA Kunsvereniging.”

Uit die vele koerantberigte, briewe en kaartjies in die plakboeke is dit duidelik dat Juliana nie net oral bekend en geliefd was nie, maar ook oral betrokke. Van sustersvereniginge tot by die Kreupelsorgvereniging en die Rooi Kruis.

Die foto van Juliana Paton het in Vaalster verskyn net voor sy Vereeniging in 1992 verlaat het.

Juliana is op 21 December 1915 in Zeerust gebore. Uit ‘n brief wat haar pa in 1955 aan haar gerig het, verduidelik hy vir haar dat sy vernoem is na Juliana van Stolberg, die moeder van Prins Willem van Oranje, die oorspronklike koning van Holland.

Die gesin het in 1922 na Vereeniging verhuis en dit sou haar tuisdorp bly vir die volgende 70 jaar. In 1992 het sy by een van haar dogters in De Aar gaan woon waar sy net so ‘n groot invloed op die gemeenskap gehad het.

Die brief wat Juliana se pa aan haar geskryf het om haar te herinner na wie sy vernoem is.

Selfs toe sy na ‘n beenbreuk nie meer kon loop nie, het sy vanuit haar bed vir haar vriende en familie kaartjies geskilder. Sy is op die ouderdom van 92 oorlede, maar laat ‘n ryk erfenis van haar skilderwerk na.

Charlotte het ook nou ‘n webtuiste op die been gebring wat hulde aan die besonderse vrou bring. Gaan besoek gerus www.julianapaton.com. Van haar werke is ook daar te sien.

“Ek het soveel as moontlik foto’s van alles in die plakboeke geneem en sal die foto’s ook mettertyd op die webtuiste publiseer. Ek het ook foto’s van verskeie organisasies verkry en mense wat nog oorspronklike Juliana Paton skilderye in hul besit het en dit het ek by die plakboeke gevoeg,” vertel Charlotte.

As daar enige skool, kerk of organisasie is wat nog van Juliana Paton se skilderye het, stuur gerus ‘n foto en die besonderhede daarvan vir Charlotte by 082 896 4685 sodat dit ook by die albums gevoeg kan word.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button