Ontmoet Mrs CSAP 2022 – Die vrolike Lettie Botha
Ontmoet die eerste Mrs CSAP, Lettie Botha. Sy is 'n bondel energie altyd omring deur mense.
VANDERBIJLPARK. – Lettie Botha is onlangs aangewys as die eerste Mrs CSAP by die sprankel toekenningsaand van die Central South African Pageant.
Lettie lag lekker oor die titel wat sy in haar wildste drome nie gedink het sy sou ooit dra nie. “Ek het altyd gedink ek is nie die skoonheidskompetisie tipe nie. Kyk, ek is mos nou nie soos ‘n tipiese model gebou nie.

“Ek hou van skiet en jag en om saam met my mense die land te verken. Loopplanke en modelwerk was nou nie my forté nie.”
Alles het begin toe haar seun TJ besluit het hy wil vir modelklasse by Werner Volschenk gaan. “Ek het maar saamgegaan. Sommer vir die pret daarvan. Genade, en daar sê Werner ons moet albei inskryf vir die CSAP Emissary kompetisie.
“Ek het eers daarteen geskop, maar hy het gesê ek moet vir almal wys ek is bang vir niks,” onthou sy en lag weer vrolik.
TJ het met die CSAP Mr Teen Emissary 2022 titel weggestap en sy met die Mrs Personality kroon. “Dit het my gepas. Ek is mos ‘n ekstrovert, wat lief is vir mense en graag kuier,” skerts sy.
Maar toe open die inskrywings vir die CSAP titels en Werner torring aan haar om in te skryf vir die Mrs CSAP titel.

“Ek het eers besluit ek gaan dit sommer vir die pret doen, maar toe ek die ander deelnemers so kyk en besef hierdie is modelle wat dit vir ‘n lewe doen, wou my selfvertroue my in die steek laat.
“Dis toe wat ek besluit het, ek gaan dit doen vir al die vroue daarbuiite soos ek. Ons is nie modelmaer nie, ons is normale vroue met drome en lewens en basta met die res.”
Sy het die kompetisie met mening aangevat. Dit baie geniet en was baie bly en verras om as Mrs CSAP gekroon te word. Sy is ook in die proses gekies om as ambassadeur vir Beloved, ‘n onderneming wat aandrokke en trourokke verhuur, op te tree.

Lettie het in Vanderbijlpark grootgeword en was in Laerskool Kollegepark en in Hoërskool Suiderlig tot graad 11. Daarna het die gesin Oos-Londen toe verhuis en het sy haar matriek by ‘n kollege voltooi.
“Dit was nou lekker. Ek kon vakke neem wat nie op daardie stadium op skool aangebied is nie, en het met vyf onderskeidings geslaag,” onthou sy.
Dis ook in die Oos-Kaap waar sy haar man, Ettiene ontmoet het. In 2010 het hy werk in Johannesburg gekry en het die gesin hul eers in Sasolburg en later in Vanderbijlpark kom vestig.
Lettie is voltyds ‘n tandheelkundige assistent by ‘n groot praktyk in Drie Riviere. Sy sien uit na haar jaar as Mrs CSAP en beplan ‘n hele paar gemeenskapsprojekte, waar sy veral kinders wil help, vir 2023.
