Suid-Afrika is ‘n gevaarlike plek vir vroue en kinders
Met 16 Dae van Aktivisme vir Geen Geweld teen Vrouens en Kinders wat in volle swang is, het die Minister van Polisie, Bheki Cele, skokkende statistiek bekend gestel.
In die tydperk, Julie tot September 2022, was meer as 13 000 vrouens slagoffers van aanranding met die doel om ernstig te beseer, 1 277 vrouens slagoffers van poging tot moord en 989 vroue is gedurende hierdie verslagtydperk vermoor en meer as 10 000 verkragtingsake is by die SAPD geopen.
In ses maande, April tot September 2022 is 558 kinders vermoor. Suid-Afrika is inderdaad ‘n gevaarlike plek vir vrouens en kinders.
Gewone mense kan ‘n groot verskil maak deur die volgende te doen:
- Moenie persone wat vrouens en kinders mishandel beskerm nie. Dit is belangrik dat hulle uitgelewer word.
- Wees sensitief en ondersteunend teenoor slagoffers van geweld.
- Dis belangrik om ‘n positiewe rolmodel vir kinders te wees deur vroue met respek te hanteer. ‘n Goeie waardestelsel moet by kinders vanaf ‘n jong ouderdom gekweek word.
Daar is verskillende vorme van geweld teen vrouens en kinders. Dit kan die volgende insluit: seksuele geweld; fisieke aanranding; beskadiging van eiendom; en emosionele mishandeling.
Slagoffers van geweld kan ‘n beskermingsbevel kry by die hof en ‘n klag teen die oortreder lê by die SAPD. Indien die polisie beampte by die aanklagkantoor nie wil help nie, vra om die bevelvoerder van die polisiestasie te sien.
Besoek gerus die webblad www.riseagainstdomesticviolence.co.za. Dit bied waardevolle inligting om slagoffers van huishoudelike geweld te ondersteun.
Inligting – NG Welsyn
