Eric – Van swem-ster tot mondskilder
Eric Theron laat hom deur niks onderkry nie. Hy skrik nie vir uitdagings nie, leef sy kreatiwiteit deur sy skilderkuns uit en vat elke dag met oorgawe aan.
VANDERBIJLPARK. – Eric Theron (39) hou daarvan om dinge op sy manier te doen. Op skool het hul hom geleer om met sy mond te skryf.
“Ag, ek het in graad 1 al die kryt stukkend gebyt,” sug hy. Toe leer hy homself maar met sy tone skryf.
Eric mag dalk nie hande en arms hê nie, maar daarmee het hy jare gelede al vrede gemaak. “Ek was ‘n rebel op skool. Het my ma grys hare gegee,” onthou hy.

“Ek was in die Hope School vir leerlinge met fisiese gestremdhede in Randburg en ek was die voorbok,” erken hy en lag lekker. “Ek lyk net altyd onskuldig,” sê hy en sy oë skitter stout.
Eric is ‘n gebore en getoë Vanderbijlparker. Op skool was hy ‘n kranige swemmer en het selfs Suid-Afrika in 2003 verteenwoordig by die 12th National Junior Games in Adelaide, Australië.
Oor die jare het hy baie goue medaljes losgeswem. Hoekom het hy opgehou? “Jy weet,” sê hy gemaak ernstig, “‘n mens word nat in die swembad.”
Hy lag maklik. Het ‘n skerp sin vir humor en spot fyn met homself en situasies. Sy ma, Breggies sê Eric is steeds ‘n handvol. Die probleem is Eric is te intelligent om heeldag net by die huis te wees.
Alhoewel hy 25 woorde per minuut met sy tone kan tik, rekenaarvaardig is, en vele ander vaardighede het, kon hy sedert hy matriek geslaag het nog nie ‘n werk kry nie.
“Besighede adverteer hul wil mense aanstel met gestremdhede, maar hul kyk vas teen die feit dat ek nie hande het nie. Hul standaard antwoord is altyd: ‘Ons sal na jou toe terugkom.’En dis die laaste sien van die kantien,” sug hy.
Eric het uit verveeldheid vyf jaar gelede eendag ‘n verfkwas in die mond geneem en ‘n skildery gedoen van sy susterskind. “Dit het nogal nie sleg uitgekom nie,” onthou hy.
Daarna het hy vir kunsklasse ingeskryf, net om die fyner kunsies te bemeester. Hy geniet die kunsklasse baie. Hy het altyd ten minste drie skilderye waaraan hy werk.
“Ek het mos nie geduld nie. Die dat ek aan drie tegelyk werk, want mens moet altyd wag vir die verf om droog te word,” vertel hy.
Alhoewel hy bykans enige iets kan skilder, van troeteldiere tot vrugte en landskappe, verkies hy om groter skilderye te doen.
“Ek begin by A4-skilderye, want hoe kleiner die skildery, hoe moeiliker is dit om met die die mond te skilder.”
Eric skilder graag op bestelling en sê mense kan hom by 076 279 8018 kontak. Hy is ook ‘n motiveringspreker wat al by verskeie besigheidsfunksies gepraat het. “Ek doen dit ook gratis by skole en kerke,” sê hy.

Eric was maar 19 toe hy met kanker in sy breinstam gediagnoseer is. “Die kanker het my laat wakker skrik. Ek het besef jy moet elke dag ten volle leef. Dis nou 20 jaar later en ek glo die Here het my genees. Dis hoekom ek gratis by kerke optree,” vertel hy.
Behalwe vir skilder, is hy ook lief om Play Station te speel en tyd saam met sy spesiale vriendin deur te bring.
Sy grootste droom bly steeds om ‘n werk te kry waar hy sy kreatiwiteit en wakker brein optimaal kan inspan. Een kans om homself te bewys is al waarvoor hy vra. Tot dan leef hy sy kreatiwiteit in sy skilderwerk uit.
