KYK: EFF ruk Gauteng-snelwegverkeer tot stilstand oor Janusz Walus
Verkeer staan al glo sedert 07:00 vanoggend bostil op die N1 waar lede van die EFF vanoggend betoog oor Janusz Walus se vrylating.
MIDRAND. – Lede van die EFF het Donderdagoggend (1 Desember 2022) die hoofpad versper en verkeer tot stilstand geruk.
Lede van die EFF het in rooi drag met plakkate op die hoofpad betoog.
Slagspreuke soos “die grondwethof is gereduseer tot ‘n instrument van wit oorheersing”, “Zondo is ‘n instrument en beskermeer van wit oorheersing”, “die grondwethof het Walus beloon vir die moord op ‘n vryheidsvegter” en “geregtigheid vir Chris Hani” is op die plakkate vertoon.
Die EFF het vroeër vandeesmaand in ‘n verklaring gesê hulle verwerp die grondwethof se uitspraak oor die vrylating van Janusz Walus wat in 1993 vir Chris Hani vermoor het.
“Die hoogste hof in die land het die sensitiwiteite van ons mense ondermyn en ontstabiliteit in die land aangewakker,” lui ‘n uittreksel uit die verklaring.
‘n Motoris wat in Pretoria se rigting onderweg was het vroeër vanoggend gesê verkeer staan glo al sedert 07:00 vanoggend botstil. Daar was in daardie stadium geen teken van die openbare order polisie nie.
Die polisie en weermag het intussen opgedaag om te kyk dat alles vreedsaam verloop.
‘n EFF-lid het volgens die motoris tussen voertuie deurgeloop met ‘n bofbalkolf in sy had.
Motoriste word gewaarsku om die pad te vermy.


Lede van die EFF onder ‘n gazebo op die N1-snelweg. Foto: Twitter: Yusuf Abramjee


