Vaalpark se jongste patrollieryer – Romeo 0
Maak kennis met Vaalpark se jongste misdaadvegter...
VAALPARK. – Ontmoet Vaalpark se jongste misdaadvegter. Andries Gothan (7) is amptelik ‘n Mini Public Eye Task Team (PETT) lid.
Dit staan so op sy pet wat hy trots dra. En dan is daar sy battery aangedrewe bakkie met die Public Eye plakkers. “Nes Oom Arrie en Oom Ruan s’n,” vertel hy.

Die jongman neem sy taak as Mini PETT baie ernstig op. Hy het selfs sy eie roepnaam op die Zello radiosisteem. Romeo 0.
“My kar kort nog my nommer, hier voor. ‘n Wit nommer op die swart. Ek sal dit nog kry,” beduie hy ernstig.
Volgens sy ma, Denidia, was Andries al van kleintyd af mal oor die polisie. Toe sy pa begin patrollie ry vir Public Eye was hy uit sy vel van opgewondenheid en dit was ook nie lank nie, toe moes sy batteryaangedrewe bakkie ook plakkers kry.
“Ek het ‘n uniform ook,” sê hy en hardloop eers kamer toe om sy Captain America pakkie te gaan haal.
“Hier is my BB gun en sy holster. Die holster is eintlik vir boeie, maar dit werk goed,” demonstreer hy.
“Ek hoop nie dis gelaai nie,” sê ek toe hy sy wapen vir my aangee.
“Nee tannie, dis nie nou gelaai nie,” kry ek die versekering. Hy vat sy BB pistool en sy Captain America byl saam as daar patrollie gery word.
Arrie Coetzee van Public Eye sê wanneer hulle by die Tharinasentrum bymekaarkom, dan laat hulle klein Andries altyd voor ry met die patrolliemotors agterna in die parkeerarea.
Sy arme pa, Andries, moet elke aand hoor, “wanneer gaan ons weer skurke kyk?”
Die Mini PETT het nog nie die kinders by Vaalpark Primêr, waar hy in graad 1 is, vertel van sy patrolliewerk nie.
“Ons doen eintlik geheime werk,” sê hy. Maar, hy het reeds planne om meer kinders in ‘n span saam te trek, waarvan hy natuurlik die leier sal wees.
Wanneer hy nie op skurke-jag uit is nie, hou Andries baie van diere. Hy wil eendag ‘n dieredokter word en in sy vrye tyd vir die polisie werk.
Hy spring graag op die wipmat met sy groot hond, Muddy en sy Jack Russel, Marley, ry saam met hom in sy patrolliemotor in die erf rond. Dan het hy nog twee katte ook, Whiskers en Snoesie.
Andries het graad 1 baie geniet, veral omdat hul vir hul jaarafsluiting diere kon gaan kyk. Hy vertel opgewonde oor die volstruise, bokke en renosters wat hulle gesien het.
Op my vraag of hy dink ek kan volgende jaar vir graad 1 inskryf, want dit klink dan nou so lekker vir my, was sy antwoord. “Miskien, miskien moet tannie eerder graad 7 probeer!”
