Local newsNewsNews

Grappie oor Charlize Theron lei glo tot man se mesdood

‘n Grappie oor die Suid-Afrikaans gebore Hollywood-aktrise Charlize Theron het Saterdagaand, 26 November glo ‘n reeks gebeure aan die loop gesit wat uiteindelik tot die steekdood van ‘n man in Pierneef-boulevard in Meyerton gelei het.

MEYERTON. – Die oorledene, Kobus van Wyk (36) het Saterdagaand aan sy wonde beswyk nadat ‘n onbekende man hom in Pierneef-boulevard in die bors gesteek het.

Volgens sy vrou Anja (38), het Kobus tussenbeide getree toe ‘n stryery tussen vriende en die onbekende man ontstaan het.

Die stryery het vermoedelik begin nadat die verdagte vroeër aanstoot geneem het oor ‘n grappie wat oor Charlize Theron gemaak is.

Johanna “Poppie” Jansen van Vuuren (34), ‘n vriendin van Kobus en sy vrou, sê sy en haar man, Leonard (36) het die betrokke aand saam met die Van Wyks by ‘n huis in Pierneef-boulevard gekuier.

Poppie, haar 13-jarige seun, Kobus se 16-jarige dogter en dié se niggie het glo na 18:00 na ‘n nabygeleë winkel gestap om ‘n koeldrank wat hulle vroeër gekoop het, te gaan omruil.

Dit was blykbaar die verkeerde geur. Poppie onthou dat sy tydens die besoek an die winkel grappies met die kassiere gemaak het oor Charlize Theron se onlangse uitlating dat net sowat 44 mense nog Afrikaans praat.

Die grappies is in die gees ontvang wat dit bedoel is.

Poppie het later ook grappenderwys vir die sekuriteitswag by die deur gevra om aan Charlize te sê dat daar meer as 44 is wat Afrikaans praat.

Hy het ook saam met haar gelag.

Die verdagte wat naby die winkel was het gesien hoe hulle met die sekuriteitswag praat en blykbaar aanstoot geneem.

Hy het hulle glo allerhande dinge toegesnou, onder andere dat hulle ‘FW de Klerk se aanhangers’ is.

“Ek het al geleer dat as iemand jou hap dan hap jy nie terug nie. Ons het na die oorkant van die pad gestap, maar die man het ons tot oorkant die pad gevolg en die lelikste goed vir ons gekree,” het Poppie aan Vaalweekblad vertel.

Volgens haar was van die verdagte se aanmerkings kru en rassisties.

Die situasie het vererger toe die verdagte glo ‘n blikkie pepersproei uitgepluk en Poppie daarmee gespuit het.

Volgens haar het haar seun haar probeer help terwyl die meisies huis toe gehardloop het om hulp te ontbied.

Die man het glo ook vir Poppie se seun geslaan dat hy op die grond geval het. Kobus en Leonard het later by die toneel opgedaag en met die man baklei.

Leonard is ook met pepersproei gespuit.

Die verdagte het glo tydens die stryery vir Kobus met ‘n skerp voorwerp in die bors gesteek.

Hy het inmekaargesak. Sy vrou Anja het op hom afgekom waar hy op die grond gelê het. Anja vertel hoe sy die bloeding probeer keer het deur die wond toe te druk.

Hy het later beswyk.

Die verdagte het volgens Poppie van die toneel af weggeloop.

Op ‘n TikTok-video word Kobus as ‘n “amazing”, “funny” en “opregte” mens beskryf. Sy dood laat ‘n groot leemte.

Vriende meen Kobus se dood was onnodig.

Die polisie van Meyerton sê ’n 33-jarige man is verlede week in hegtenis geneem in verband met ’n steekmoord in Pierneef-boulevard.

Volgens konst. Tlaleng Moloi, ’n woordvoerder vir die polisie in Meyerton, het die polisie met die hulp van ’n beampte van die Midvaal Plaaslike Munisipaliteit die verdagte Maandag (28 November 2022) by die Engen-vulstasie in Kookrus, langs Pierneef-boulevard, aangekeer en in hegtenis geneem.

Die man word van moord aangekla. Hy het blykbaar Donderdagoggend vlugtig in die landdroshof op Meyerton verskyn.

Kobus van Wyk (36) wat aan sy beserings beswyk het nadat ‘n onbekende man hom Saterdagaand in die bors gesteek het. Foto: WhatsApp

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button