Local newsNewsNews

Vinkel en Koljander, die twee is altyd saam

Hope talent en 'n liefde vir sport loop sterk in die familie. Lees meer...

VAALPARK. – Katelyn Fourie en Damian Hartman het so pas hul laerskoolloopbaan op ‘n hoë noot afgesluit.

Katelyn was hoofmeisie van Vaalpark Primêr en is ook as die Veelsydigste Sportdogter gekroon. Damian was deel van die leerlingraad en het met die trofee as Veelsydigste Sportseun weggestap.

Die twee is neef en niggie, bly langs mekaar en is soos broer en suster. Dié dat hul soms so kan stry, maar dis net oppervlakkig.

Eintlik is hulle baie erg oor mekaar en is al van hul kleuterskooldae in dieselfde klas. Volgende jaar durf hul saam ‘n nuwe avontuur by die Hoërskool Transvalia aan.

Alhoewel hul belangstellings baie verskil, deel die twee ‘n liefde en ‘n talent vir sport. Stilsit kan hulle nie. Hulle is op hul gelukkigste as hulle besig is om te oefen of deelneem.

Damian geniet krieket en rugby die meeste, maar hy neem ook deel aan tweekamp, swem en atletiek. “Ek het die jaar hekkies probeer, maar ek het deur die hekkies gehardloop in plaas van oorspring,” lag hy lekker. Die man is eerder tuis op die rugbyveld waar hy eers stut en nou haker speel.

2022 was ‘n goeie jaar vir sy sport. Hy was deel van die skool se atletiekspan en ook die o.13 A rugbyspan wat die Valke Suid o.13 A Superskole liga gewen het.

Hy is ook gekies vir die Valke XV o.13 B-span, die Noord Vrystaat swemspan en die Noord Vrystaat Tweekampspan.

Op die krieketveld het hy geskitter in die o.13 A span en is ook gekies om vir die Fezile Dabi Noord o.13 A span krieket te speel.

Sy held is die voormalige Proteakrieketspeler Jacques Kallis. Damian is ook baie lief vir diere, hy het ses honde en ‘n African Grey papegaai, en droom daarvan om eendag ‘n veearts te word.

Katelyn skitter in die swembad. Haar gunstelingitem is rugslag. Sy droom daarvan om in 2029 Suid-Afrika by die Olimpiese Spele te verteenwoordig.

Daarvoor werk sy reeds baie hard en is onlangs verkies tot die Xeel Performance se junior span. Sy was vanjaar ingesluit in die Vrystaat swemspan en wen ’n goue-, silwer- en bronsmedalje by die Suid-Afrikaanse kampioenskappe.

Katelyn het ook die Noord Vrystaat se victrix ludoromkroon gedra en het in al agt swemitems waaraan sy deelgeneem het eerste plekke behaal.

Dan het Katelyn ook hierdie jaar uitgeblink in netbal, hokkie, tweekamp, tennis, verspring, gewigstoot en diskus, waar sy verskeie Noord Vrystaat spanne gehaal het.

Damian se ma, Juanita sê as die twee nie aan sport kan deelneem nie, kan niemand met hul huishou nie.

“Hulle ondersteun mekaar ongelooflik baie en probeer om nie mekaar se wedstryde mis te loop nie,” vertel sy.

Die twee sien nou uit na die Desembervakansie. Die groter familie gaan saam met hul oupa en ouma in Mosselbaai kuier waar hulle beplan om baie te swem, vis te vang en Damian gaan baie roomys eet.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button