Elektriese storm knip hengelkompetisie kort
SASOLBURG. - Die Hap en Kap-hengelklub se lede het onlangs aan twee kompetisies deelgeneem, maar een daarvan was in die wiele gery weens 'n storm.
Die klub se voorlaaste kompetisie van die jaar was die November maandkompetisie op 26 November by Klipdrifdam naby Potchefstroom. Daar was 12 hengelaars teenwoordig wat 122 vis (90,695kg) ingeweeg het vir punte.
Kit Taljaard het met ‘n wen-karp van 5,170 kg gespog, terwyl Bez Bezuidenhout die algehele wenner van die dag was met 17 vis (14,635kg).
Die klub het ook die jaar afgesluit met ‘n naweekkompetisie vanaf 2 – 4 Desember by Biermans net buite Oranjeville. Slegs 8 hengelaars het aan die kompetisie deelgenem.
Die Vrydagaand het ‘n elektriese storm groot skade aangerig en sommige hengelaars was hul hounette en staanders kwyt weens die storm. Daar was ook skade aan cazebos aangerig.

Die kompetisie is Saterdag 3 Desember om 15:00 gestop weens dreigende weerstoestande.
In totaal is 77 vis (60,050kg) ingeweeg vir punte.
Lex Jordaan (Penkop) het ‘n karp van 2,675kg geland, en Kit Taljaard was weer die algehele wenner met die swaarste karp van 4,640kg.
Francois Jordaan het die swaarste baber van 3,695kg, ‘n karp van 1,605kg en ‘n moddervis van 0,740kg ingeweeg wat hom die wenner maak van die swaarste drie spesies. Hy het ook die swaarste sak vis ingeweeg, 37 vis (25,550kg).
Enige persoon wat belangstel om kompeterend te hengel kan vir Leon Meyer by 083 7754 639 skakel.


