Local newsNewsNews

Ludwig die Grote!

Ludwig - 'n hartseer storie met 'n gelukkige einde. Lees meer...

VANDERBIJLPARK. – Ludwig was maar net ‘n bondeltjie hare en bene toe Jackie Kleynjan 9 Augustus die oproep gekry het.

‘n Vrou het hom by die begraafplaas in Vanderbijlpark gekry. Sy het eers gedink dis ‘n katjie, maar toe besef dis ‘n hondjie – in ‘n baie slegte toestand.

Ludwig was verwaarloos en ondervoed.

Sy het die bondeltjie hond dadelik na Danielle van Rooyen by Vaalpets geneem, waar hy eers kos gekry het voordat hulle hom gebad het. Hy is Ludwig gedoop, dit beteken vegter.

“Hy het maar 1.82kg geweeg, maar het redelike groot pote gehad, wat nie gestrook het met sy gewig nie. Ons het geskat dat hy so drie maande oud was.

“Die eerste twee weke het hy net gekrap, geslaap, geëet en koud gekry. Hy het soos ‘n oliebol gelyk soos wat ek sy lyfie met klapperolie ingevryf het,” vertel Jackie.

Volgens Danielle neem dit vir ‘n hondjie weke om in so ‘n slegste kondisie te kom. Hulle vermoed dat hy lank by die begraafplaas gebly het.

Ludwig ‘n paar weke later

Hy is met spesiale sjampoe gewas en ure is spandeer om die nete (luise) uit sy hare te kam. Ludwig het die eerste paar dae by Jackie in elke bos probeer wegkruip.

Sy het hom toe belowe dat hy nooit weer honger, dors of onveilig sal voel nie. Stelselmatig het Ludwig begin beter lyk. Hy het gewig aangesit en by die dag mooier geword.

In die volgende paar maande het Ludwig goed aangepas. Hy was erg oor Jackie se vyf groot honde, maar skrikkerig vir mense.

Hy het ook al sy verlore groei ingehaal en dit was duidelik dat hy Spaniël en Labrador bloed in hom het.

Ludwig is nou ‘n baie mooi, goedversorgde hond met ‘n liefdevolle geaardheid en ‘n familie van sy eie.

Teen November het hy al 14.8 kg geweeg. ‘n Bondel liefde met ‘n pragtige persoonlikheid. Sy storie het ‘n gelukkige einde.

Hy is in November deur Bertus en Marelize Visagie van Vaalpark aangeneem. Hy floreer en daar is nog ‘n viervoet waarmee hy klaar maats gemaak het.

Jackie sê: “Hy is ‘n welaangepaste woef met baie liefde om te gee. Hy het sy nare ondervinding agterweë gelaat en homself toegelaat om weer in liefde te glo. Mooi loop onse Ludwig, jy sal altyd ‘n stukkie van ons harte behou.”

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button