Annie Jnr was ‘n fees
Annie was 'n treffer en die ideale manier om die teaterjaar af te sluit en die vakansie in te lui.
SASOLBURG. – Oud en jonk het Annie Jnr – die musiekblyspel geniet Vrydag, 9 Desember. Die produksie van die Pretoria Youth Theatre het vir uitstekende vermaak gesorg.
Die jongklomp het hul goed van hul taak gekwyt en dis duidelik dat daar nie ‘n tekort aan talent is nie.

Aan die begin het ‘n mikrofoon hier en daar probleme gegee, maar die jong akteurs en aktrises het selfs dit met koel profesionaliteit hanteer.
Die Vaal se eie Caitie Rock het geskitter as Annie. Sy het ‘n stem wat bekoor en gaan dit nog ver bring.
Benjamin Wood as Rooster se uitsonderlike dans, drama en sangtalent het uitgestaan. Hy laat alles net so maklik lyk en het hom behoortlik in die rol ingeleef.

Jaron Meyer se spel as Mr Warbucks het ook uitgestaan en Palesa Makhalima was uitgeknip vir haar rol as Miss Hannigan.
Dankie aan Herman van Niekerk wat plan gesien het om hierdie produksie in Sasolburg te kry. Dit het die teater jaar op ‘n hoogtepunt afgesluit.
