VANDERBIJLPARK. – Die lopies het gevloei en die paaltjies het gespat tydens die eerste ronde van die Sedibeng Premierliga (SPL) se T20-krieketreeks wat Sondag 1 November by die Hoërskool Transvalia plaasgevind het.
Die kolwers het behoorlik ingeklim en die boulers moes hard werk vir hul paaltjies in die eerste drie wedstryde van die reeks waarin altesaam 766 lopies aangeteken is.
Die Strikers het die grootste oorwinning van die dag behaal toe hulle die BW Blasters se o.11-span met 118 lopies afgeransel het.
Die Strikers se kolwers het die Blasters se boulwerk behoorlik uitmekaar getorring en ‘n indrukwekkende 204/1 in hul toegelate 20 boulbeurte opgestapel.
Mian Loubser het die aanslag gelei met ‘n blitsige onoorwonne 50 lopies van net 25 balle, terwyl Zaiden Barkley ook die boulers laat bontstaan het met 50 nie uit nie van 28 aflewerings. Kyle Jacobs het 40 lopies van 33 balle bygedra.
Die Blasters kon nie die mas opkom nie en is tot 86/9 in hul 20 boulbeurte beperk.
Luandre van Litterveld het die meeste skade met die bal aangerig en het drie paaltjies vir slegs vyf lopies in drie boulbeurte platgetrek. Jason Bouwer het twee paaltjies vir 19 lopies geneem.
Loubser is as Speler van die Wedstryd aangewys.
Die kragmeting tussen die Gary Mann Stags en Thunder Force het heelwat meer spanning opgelewer, met die Stags wat uiteindelik met ‘n skrale twee lopies koning gekraai het.
Die Stags het 157/6 in hul 20 boulbeurte aangeteken, met Xander du Plessis wat die voortou geneem het met ‘n onoorwonne 53 lopies van slegs 26 aflewerings. Logan de Jager het hom goed ondersteun met 39 nie uit nie lopies van 22 balle.
Die Thunder Force het die teiken amper gehaal, maar moes uiteindelik met 155/4 tevrede wees.
Altus Bester het verbete weerstand gebied met ‘n onoorwonne 50 lopies van 37 aflewerings. Duhan van den Berg het 23 lopies bygedra en Raymond Pretorius 21.
De Jager het met twee paaltjies vir 16 lopies die beste boulsyfers vir die Stags behaal, terwyl Du Plessis met die speler-van-die-wedstryd-toekenning weggestap het.
In die derde wedstryd het die Roosters korte mette met die BW Blasters se o.13-span gemaak en met agt paaltjies gewen.
Die Blasters se kolwers het gesukkel om aan die gang te kom en is vir 81 lopies in 15 boulbeurt uitgehaal.
Lian Roberts was die groot doring in hul vlees en het drie paaltjies vir net tien lopies in drie boulbeurte geneem. Calim Malan het ook uitgeblink met twee paaltjies vir ‘n enkele lopie.
Die Roosters het daarna geen tyd gemors om die teiken te jaag nie en het die wenlopies reeds in die sewende boulbeurt aangeteken om op 83/2 te eindig.
Cheseny van den Berg het 28 onoorwonne lopies van 12 balle gemoker, terwyl Dillan Gomez 27 van 13 balle aangeteken het.
Roberts is vir sy boulvertoning as Speler van die Wedstryd aangewys.