Man met gapende wond op sy buik benodig hulp
'n 25-Jarige pakhuisbestuurder van Vanderbijlpark het hulp nodig om vir sy mediese behandeling te betaal nadat drie operasies by 'n staatshospitaal hom glo met 'n gapende wond op sy buik gelaat het.
Waarskuwing! Die artikel bevat grusame beeldmateriaal wat sensitiewe lesers mag ontstel.
VANDERBIJLPARK. – David Theart, ‘n pakhuisbestuurder by Cefratec in Vanderbijlpark, sê hy is met die gapende wond in sy buik gelaat nadat hy in Desember verlede jaar drie agtereenvolgende operasies by die Sebokeng-hospitaal ondergaan het.
David, wat nie aan ‘n mediese fonds behoort nie, sê hy het laat verlede jaar by die Johan Heyns-hospitaal in Vanderbijlpark aangeklop nadat hy ‘n pyn aan die regterkant van sy sy ervaar het.
Personeel by die Johan Heyns-hospitaal het hom na die Sebokeng-hospitaal verwys waar hy drie operasies in Desember ondergaan het.
Tydens die eerste operasie op 20 Desember 2022 is sy buik glo oopgesny en met steke toegewerk. Hy moes daarna glo ‘n tweede verdere operasies ondergaan.
Sy toestand het egter versleg na die operasies.

David sê sy werkgewer het ná 11 dae in die hospitaal besluit om hom te help deur hom na die Mediclinic Emfuleni-privaathospitaal oor te plaas, waar hy tans behandeling ontvang.
David sê hy is tans in erge pyn en benodig “vakuum terapie” – ‘n tipe terapie waartydens vogtigheid uit die gapende wond in sy buik gesuig word – alvorens daar op hom geopereer kan word.
David sê: “Dit is ongelooflik seer. Die pyn is byna ondraaglik.”
“Die kostes vir my behandeling is ongelooflik hoog en ek het eenvoudig nie die geld nie,” sê David.
Mense wat hul weg kan oopsien om finansiële bystand aan David te verleen kan hom skakel by 066 280 8274.
David het ook ‘n spaarrekening waarin mense geld kan skenk.
Die rekeningnommer by ABSA-bank is 9328686305.
Die takkode is 632005.

