Waterlekke herstel in CW areas, kragprobleme ook… soortvan
Waterlek in straat herstel na amper twee maande.
VANDERBIJLPARK. – Ten minste twee waterlekke is op Saterdag, 7 Januarie deur die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit herstel.
‘n Lek wat al geruime tyd probleme in Fordstraat veroorsaak het is reggemaak, asook die een wat al sedert November 2022 amok gemaak het in Hadfieldstraat.

Saterdag het eers op ‘n donker noot vir inwoners van die CW-areas begin.
Na die, nou al normale, beurtkrag van 16:00 – 20:00 op Vrydagaand het die elektrisiteit nie weer aangekom nie.
Met die ELM Beheerkamer wat net so nou en dan laat weet het, dat die elektrisiëns nog besig is, is die inwoners letterlik en figuurlik in die duister gelaat.
Vroegoggend het stukkies inligting begin deurkom dat daar aan die Town Sub en die kleiner stasie in Turnerstraat gewerk word.
Vlak voor 10:00 het die meeste CW-areas darem weer krag gehad. Die oorsaak van die lang kragonderbreking is nie gekommunikeer nie.
Intussen is daar berig dat daar nog aan ‘n kabelfout in Bessemerstraat, CW6 gewerk word.
Hopelik sal almal teen laatmiddag weer lig op die onderwerp hê. Tot Sondagoggend, wanneer die area alweer moet regmaak vir beurtkrag van 08:00 – 12:00.
