‘Elke gedig is soos ‘n geboorte’
Ontmoet een van die Vaal se ontluikende digters, Henriétte Schoeman. Lees meer...
VANDERBIJLPARK. – Om te dig is nie maklike kunsvorm nie. Om gedigte te publiseer is nog moeiliker.
Vir Henriétte Schoeman vloei die woorde maklik. Sy het op laerskool al begin versies skryf en daarmee volgehou tot na haar studentejare.
Daarna het die lewe gebeur. In 2000 is sy met die outoimuunsiekte, Lupus gediagnoseer.
Sy het ook twee moeilike swangerskappe gehad en haar een seun, Drikus is kleintyd al met onder andere Aspergersindroom gediagnoseer.
Dit was eers na haar ma oorlede is in 2019, dat Henriétte weer die pen opgeneem het om uiting aan haar emosies te gee.
Sedertdien is haar gedigte al in verskeie publikasies opgeneem, onder ander Malherbe Digtershuis se Groot Verseboek van 2022, Gebed vir ‘n boer 2 en Stemme uit die Suiderland van die Genootskap vir die handhawing van Afrikaans (GHA).
Daar is ook van haar gedigte drie jaar in ‘n ry in die INK Bloemlesing gepubliseer.
“Elke gedig kom uit my siel. Elkeen is soos ‘n geboorte. Ek is ‘n absolute gevoelskrywer,” vertel Henriétte wat inspirasie vir gedigte kry deur dit was sy om haar sien en lees.
Alhoewel haar gesondheid nie altyd na wense is nie, want die Lupus het nou al haar hart en niere aangetas, bly sy positief en aan die gang.
Wanneer sy nie gedigte te skryf nie, hou sy haar besig met houtwerk. Sy het ‘n palet besigheid waar sy skinkborde maak van afvalhout.
“My oupa het skrynwerk as ‘n stokperdjie beoefen. Ek dink dis waar ek my liefde om met hout te werk vandaan gekry het,” glimlag sy.
Henriétte doen ook naalwerk en beplan ook ‘n groot mosaïek projek. Dan wil sy ook graag leer kitaar speel. Solank sy nie hoef stil te sit nie.
Sy slyp haar digkuns deur die Dig Akademie en probeer om aan soveel as moontlik digkompetisies deel te neem.
“Ek leer met elke kompetisie so baie. Deur die Dig Akademie asook diggroepe op Facebook kan ek my digkuns slyp en verfyn.”
Sy droom daarvan om eendag haar eie digbundel uit te gee, maar sê dis vir haar moeilik om haar gedigte bloot te stel. Elkeen bevat ‘n stukkie van haar siel en hart.
