Local newsNewsNews

Dit gaan voor die wind met Storm – kyk net hoe groot is sy al!

VANDERBIJLPARK. - Dit gaan nog voor die wind met Storm en Rain, want die twee BFF's van die Animal World spog nou met 'n groter kamp waar hul steeds saam hul dae luilekker kan spandeer.

Storm (die agt maande oue kameelperd) is op 9 April omstreeks 12:00 in die Emerald Resort & Casino se Animal World gebore, maar is dadelik deur haar ma verwerp.

Elana Smalberger (bestuurder van die Animal World Dieretuin) het vroeër die jaar vertel hoe die ma haar kalf net daar tussen die bome gelos en weggestap het.

Daar is toe besluit dat die kameelperdkalf gered moes word. Kort na die reddingspoging het daar ‘n haelstorm uitgebreek en vandaar het Storm haar naam gekry.

Kort daarna is daar vir haar ‘n maat aangeskaf sodat sy nie alleen is terwyl Elana met haar ander daaglikse take besig was nie.
Rain, ‘n melkvers, het toe ‘n permanente lid van die Animal World-familie geword. En die twee is steeds onafskeidbaar.

Die foto van Storm en Rain is in Mei geneem. Foto’s: Elsje Vermeulen
Kyk hoe groot is die twee nou!

Die twee kalwe loop deur die dag saam in hul nuwe kamp, teenaan die wildspark gedeelte van die Animal World rond. Besoekers wat kaartjies vir ‘n besoek aan die wildspark bekom, sal dus voortaan ook die twee oulike gesiggies tydens hul besoek kan sien.

Saans slaap die twee BFF’s apart, want Storm het intussen baie groter as Rain geword en daar word nie kanse gewaag vir onnodige beserings nie.

“Daar was uit die staanspoor beplan dat Storm geleidelik gespeen sal word, waarna sy deur die dag in die wildspark kan rondloop en dan na haar kamp kan teruggaan as sy wil,” sê Elana. Vir nou word Storm en Rain steeds in hul eie kamp gehou.

Storm drink steeds sowat 9 liters melk per dag, maar Rain het haarself intussen gespeen en drink glad nie meer melk nie.

Elana, bygestaan deur Lizinda Corbett (assistentbestuurder – nie wild) het aan die begin baie tyd spandeer om te sorg dat Storm ‘n gesonde sterk kameelperdkalf word, en beurte gemaak om op ‘n leer te klim om vir Storm haar bottel melk te gee.

Daar word nou geleidelik minder tyd met Storm spandeer sodat sy ‘n onafhanklike jong kameelperd kan word.

Elana Smalberger (bestuurder van die Animal World Dieretuin) saam met Storm.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Elsje Vermeulen

Elsje Vermeulen is the senior editor of MooiVaal Media and editor of the Vaalweekblad. Well-known for her award-winning photography and heartwarming stories, she always has the readers’ best interests at heart. Email: elsje@mooivaal.co.za
Back to top button