Eerste tekens van vermiste tier gevind
Sheba die tier wat die naweek uit 'n kamp op haar eienaar, Martin “Rassie” Erasmus se erf ontsnap het is vroeër vanaand naby 'n watergat in die Walker Fruit Farms-omgewing opgemerk met behulp van 'n hommeltuig met infrarooi sensors.
Volgens Gresham Mandy, woordvoerder vir die Sektor 2 GPF (in die Walker Fruit Farms en De Deur-omgewing) is die tier ongeveer 19:30 met behulp van die hommeltuig gewaar.
Ongeveer 20:00 het spoorsnyers wat per voet die bosse fynkam ook die tier se voetspore rondom die watergat – waar sy vroeër met behulp van die hommeltuig waargeneem is – gesien.
Volgens Mandy kon hulle ook die tier ruik, wat beteken dat sy waarskynlik baie naby was.
“Die bosse was te dig en dit was te gevaarlik vir die span om nader te gaan,” vertel Mandy.
Volgens Mandy is die plan om ‘n karkas op te sny en naby die watergat uit te sit met ‘n verdowingsmiddel in.
Daar word gehoop dat dit haar lomerig sal maak, sodat die span haar makliker kan vang.
Indien dit nodig is kan die span ook pyle (“darts”) met verdowingsmiddels gebruik om die tier te verdoof.
Daar word gehoop dat die tier gevang kan word sonder om haar te beseer.
