Tier doodgeskiet nadat sy naby wonings kom en troeteldier doodbyt
Die tierwyfie Sheba wat die naweek uit 'n kamp op haar eienaar Martin “Rassie” Erasmus ontsnap het en sedertdien 'n skrikbewind in die Walker Fruit Farms-omgewing voer is vroeg vanoggend doodgeskiet.
WALKERVILLE. – Volgens ‘n verklaring wat deur Gresham Mandy van die Sektor 2 GPF uitgereik is is daar omstreeks 01:55 inligting ontvang oor aktiwiteit by die Arborteum-plaas in Walker Fruit Farms.
Die ligging is ongeveer 2km van waar die tier Sheba laas gesien is.
“Die tier het ‘n gebied waar daar ses wonings is en waar verskeie mense bly binnegekom. Sy het een van die troeteldiere aangeval en doodgemaak en daar is vir bystand gevra.
“Lede het op die toneel opgedaag en vir die tier begin soek. Die eienaar van die tier was teenwoordig. Sy is naby een van die wonings op die perseel aangetref.
“Weens die terrein was dit nie moontlik om haar veilig in toom te hou nie.
“Ongeeer 03:45 is die besluit geneem om die tier uit te sit.”
“Ongelukkig was dit nie moontlik om haar in daardie stadium te verdoof nie,” het Mandy gesê.
Volgens Mandy het die tier gedurende die nag oor die koppies waar sy laas gewaar is beweeg en na die westekant van Walker Fruit Farms toe waar daar baie meer vee is en wat baie digter bevolk is.
“Dit was nie ‘n maklike besluit om te maak onder die omstandighede nie, maar die veiligheid van die gemeenskap van Walkerville was ‘n prioriteit,” sê hy.
