‘Kla werkers wat raadsvergadering ontwrig, eiendom beskadig krimineel aan’ – Goue Driehoek Sakekamer
Die Goue Driehoek Sakekamer het gevra dat die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit werkers wat Woensdag (25 Januarie 2023) 'n raadsvergadering ontwrig het en eiendom beskadig het krimineel aankla en dat hulle aanspreeklik gehou moet word vir die skade wat hulle aangerig het.
VEREENIGING. – Ontevrede werkers van die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit het Woensdag (25 Januarie 2023) die raadsergadering ontwrig en raadseiendom beskadig.
Dit volg nadat die munisipaliteit vroeër die week ‘n brief aan werknemers uitgestuur het waarin hy die werknemers meedeel dat uitdagings met die betaling van werknemers se Januarie-salarisse ervaar word.
Dit volg nadat Eskom die munisipaliteit se bankrekening laat vries het nadat Emfuleni nie betaal het nie.
Die Goue Driehoek Sakekamer het in ‘n verklaring die voorval ten sterkste veroordeel en gevra dat diegene wat die vergadering ontwrig en raadseiendom beskadig het aanspreeklik gehou word vir hul vernietigende optrede.
Volgens die sakekamer is die voorval op kringtelevisie vasgevang en is die werkers wat by die voorval betrokke was reeds geïdentifiseer.
“As georganiseerde sake- en belastingbetalers verwag ons vinnige optrede van die Raad, die Burgemeester en waarnemende Munisipale Bestuurder om hierdie kwessie aan te spreek en te verseker dat soortgelyke voorvalle nie in die toekoms plaasvind nie.
“Die gemeenskap wat bydra tot die salarisse van ELM-werknemers hoef nie sulke minagting en verontagsaming van openbare eiendom te verduur nie,” het Klippies Kritzinger, die Goue Driehoek Sakekamer se president en uitvoerende hoof in ‘n verklaring gesê.
Kritzinger het ook gevra dat die munisipaliteit binne sewe dae skriftelik op die klagte reageer en terugvoer gee oor watter stappe Emfuleni gaan neem om sulke gevalle in die toekoms te verhoed.



