Local newsNewsNews

Onmoet Dokkies se nuwe geesvangbus!

Almal is aan die gons oor die Hoërskool Dr. Malan se geesvangbus.

Die artikel het die eerste keer in die gedrukte weergawe van Vaalweekblad van 25 Januarie 2023 verskyn.

MEYERTON. – ‘n Geroeste ou MercedesBenz skoolbus uit die 1950’s wat in onbruik verval het en op die Hoërskool Dr. Malan se skoolterrein gestaan het, is onlangs gerestoureer en het nou ‘n nuwe lewe gekry as die skool se geesvang-bus en musiekfabriek!

Die bus, wat nou as Q’nie bekend staan, spog met ‘n kunstige en prettige nuwe ‘baadjie’, klankstelsel, yskas, luidsprekers (vir afkondigings by atletiekbyeenkomste) en selfs ‘n kamera wat foto’s by die eindstreep neem om naelloop-wenners te bepaal.

Volgens Jacques Roos van Emerald Auto Body & Graphix, wat die restourasiewerk gedoen het, is geen moeite ontsien om die bus in ‘n volwaardige partytjiebus te omskep nie.

Die bus is glo vernoem na Quintus Venter, ‘n plaaslike sakeman, ouer en direkteur van Diraro Group, ‘n groep van vervoermaatskappye wat met die insiatief vorendag gekom het en die restourasiewerk geborg het.

Volgens Elsabe Troskie, onderhoof van Hoërskool Dr. Malan, het die skool die bus oorspronklik in 1956 tweedehands by die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys (PU vir CHO) gekoop.

Die bus is al baie oud en is deur die jare gebruik om talle skoliere – insluitend ouers van kinders wat vandag by Hoërskool Dr. Malan skoolgaan – te vervoer.

Die bus is glo ook in Marguelette Louw se fliek oor die Highbury busramp by Henley-on-Klip, gebruik.

Die bus is die laaste keer in 2019 – net voor die Covid-panemie van 2020 – gebruik voor daar besluit is om dit op bystand te plaas vir as een van die skool se ander busse breek.

Die laaste rit was na Heidelberg waar dit blykbaar gebruik is vir die verfilming van ‘n ou fliek.

Die restourasieproses het sowat ‘n jaar geneem en die bus is Donderdag, 19 Januarie vanjaar by die skool afgelewer. Dit sal voortaan gebruik word by atletiekbyeenkomste.

Die bus soos dit gelyk het voordat restourasiewerk gedoen is. Foto: Verskaf
Die binnekant van die bus. Foto: Verskaf
Q’nie op die Hoërskool Dr. Malan se sportgronde. Foto: Verskaf

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button