Leroi le Roux – hier kom groot dinge
Minder as 'n jaar gelede is sy been geamputeer, vandag het hy reeds gekwalifiseer vir die SA atletiekkampioenskappe vir persone met gestremdhede. Lees meer...
VANDERBIJLPARK. – Om met ‘n eerste byeenkoms alreeds vir die SA Atletiekkampioenskappe te kwalifiseer, wil gedoen wees. Veral as jy op skool laas aan diskus deelgeneem het.
Leroi le Roux het die afelope twee naweke sy staal in diskus en gewigstoot gewys deur vir beide nommers vir die South Africa Sports Association for the Physically Disabled (SASAPD) kampioenskappe in Maart te kwalifiseer.

Leroi se been is in Mei 2022 geamputeer. Vaalweekblad het begin November ‘n onderhoud met hom gevoer waar hy skertsend gesê het hy dink daaraan om te begin diskus oefen.
Dit was pas nadat hy sy nuwe prostetiese been ontvang het. Op daardie stadium het hy dit reeds so paar keer op die oefenveld gewaag en die diskus met kruk in die een hand geslinger.
Die afgelope twee maande het hy in alle erns begin oefen.
“Ek doen nou meer as 10 000 tree per dag, oefen drie maal per week met my persoonlike afrigter en tweemaal per week saam met my diskusafrigter,” vertel hy opgewonde.

Leroi het ook by die IsAbility Sports Club aangesluit wat uit hul pad gegaan het om hom betyds geregistreer te kry vir die eerste byeenkoms wat by die Pilditch Stadium in Pretoria plaasgevind het.
“Ek moes voor die byeenkoms laat weet waaraan ek wil deelneem en wat my verste afstande was. Ek besluit toe net daar en dan ek gaan gewigstoot ook doen,” vertel hy.
“Enigste probleem was ek het laas as 14-jarige aan ‘n gewigstootbal gevat.”
Hy het sy vrou opgekommandeer met ‘n maatband en hy het voor op die sypaadjie gou ‘n gewigstootbal gaan gooi en maklik die afstand vir deelname bereik.
14 Januarie het Leroi met ‘n afstand van 9.82 m in gewigstoot en 33.98m in diskus gekwalifiseer vir die SA’s wat Maart by die Groenpuntstadium in die Kaap plaasvind.
Om te kwalifiseer moes hy onderskeidelik 9m vir gewigstoot en 27,8m vir diskus gooi. Daarmee het hy dan ook sy Gauteng provinsiale kleure verwerf.

Leroi neem amptelik in die F64 klas deel. ‘n Week later het hy min of meer dieselfde afstande behaal by ‘n tweede byeenkoms in Pretoria.
Nou werk hy hard om sy beste afstande te behaal by die Winelands International Championships wat 11 Februarie in die Wes-Kaap plaasvind.
Sy groot doelwit vir die jaar is om te kwalifiseer om aan die Wêreldkampionskappe in Oktober deel te neem.
“Dit was ‘n oorweldigende gevoel toe ek die eerste keer op die veld stap.
My hele familie was daar om my te ondersteun. Verlede jaar was ‘n rowwe jaar, maar nou lyk dit die amputasie was ‘n bedekte seën.
Met twee bene sou ek nooit eers daaraan gedink het om weer aan atletiek deel te neem nie,” sê hy met ‘n groot glimlag en ‘n vonkel in sy oë.
