‘n Tweedekans katte-paradys
Mia Kapp, Debbie Louw en Riaan Bagchus is 'n gedugte span wat al honderde katte oor die jare gered, gehelp en versorg het. Lees meer...
VANDERBIJLPARK. – Dit het alles in 2007 begin met ‘n wilde katjie by ‘n winkelsentrum in Drie Riviere wat Mia Kapp en haar ma, Debbie Louw se aandag getrek het.
Hulle het die katjie begin kosgee en gou agtergekom daar is ‘n hele kolonie katte. Die katte het almal gesondheidsprobleme gehad.

Mia-hulle het begin om die katte te vang, te laat steriliseer en waar moontlik, gesond kry.
Dit was nie lank nie of hulle het van die kreupeles huis toe gebring. In samewerking met hul plaaslike veearts het al meer katte huis gekry.
Die onkostes het gegroei en al hoe meer katkolonies het hul paaie gekruis. Uiteindelik het hulle ‘n Facebookblad, Kitten and Cat Rescue, gestig.
Die ledetal het gegroei, ‘n nie-winsgewende organisasie is gestig en vandag huisves Mia-hulle 58 katte.
Met die hulp van die derde lid van die katspan, Riaan Bagchus, vorm die drie die perfekte span om na die katte om te sien.
Elkeen is gesond ten spyte van ‘n af been hier en daar, ‘n gebrek aan tande by party en ‘n sielkundige knou wat sommiges oorgehou het van hul eerste kennismaking met die mensdom.
Al hul katte is gesteriliseer en baie word geborg deur weldoeners, wat sover as Engeland en die VSA woon.

Hulle het al honderde suksesverhale waar katte goeie huise gevind het. Debbie sê hulle het ‘n baie streng beleid wat hul volg as iemand ‘n kat wil aanneem.
Wat hul doen, doen hulle ter wille van die katte. Dis mense wat hul moeg maak. Want mense is wreed. Hulle het al alles gesien – van katte wat geskiet is tot by ‘n katjie wat in ‘n voëlhokkie aangehou is.
“Ons het geleer om nee te sê. Ons kan nie net katte inneem nie en werk nou se dae slegs deur ons veearts. As sy ons kontak, dan los ons alles en gaan haal die kat, maar andersins glad nie.
Ons moes leer ons kan nie al die katte red nie,” vertel Mia.

Mense wat nie hul katte laat steriliseer nie, maak hul warm onder die kraag en die wat klein katjies willens en wetens weggooi of seermaak laat hul rooi sien.
Die katte wat tans by hulle op die erf is, het elkeen ‘n naam en elkeen het ‘n storie. Dit is duidelik die katte ontvang baie liefde en is rustig in die erf wat besondere hoë heinings het sodat die katte nie kan uitkom en vreemde katte nie kan inkom nie.
Dan is daar natuurlik Nando, die Ara papegaai, wat help om die katte groot te maak en ‘n ogie oor hulle hou.

Om seker te maak hulle kan genoeg fondse inbring om die veeartsrekening te betaal, bied hul ekstra klasse vir leerlinge van alle ouderdomme aan in Afrikaans, Engels, wiskunde, wetenskap, rekeningkunde en kuns.
Kontak gerus vir Mia by 084 765 4210 vir meer inligting oor die klasse.
Kitten and Cat Rescue is ook ‘n begunstigde van die Woolworths MySchool MyVillage MyPlanet program.
Volg die kattewales op hul Facebookblad, Kitten and Cat Rescue en word deel van die oplossing.
