Staking van munisipale werkers ruk dienslewering tot stilstand
Terwyl tientalle lede van die Suid-Afrikaanse Munisipale Werkersunie (Samwu) dié week na die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit se kantoor in Vanderbijlpark opgeruk het nadat hulle nie betaling ontvang het nie is dienslewering agterweë gelaat.
VEREENIGING.- Honderde werkers het Dinsdag (31 Januarie 2023) na die Emfuleni Munisipaliteit se kantoorgebou in Vanderbijlpark gestap om ‘n griefskrif aan die munisipaliteit te oorhandig.
Die protesoptrede volg volgens die unie nadat die munisipaliteit op verskeie geleenthede nie werkers betyds kon betaal nie en weens ‘n algemene ineenstorting van dienslewering in die munisipaliteit.
Elize Aucamp, raadslid vir Wyk 45 van die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit, sê in ‘n verklaring dat talle inwoners van Sonlandpark hulself Dinsdag in ‘n moeras van riool bevind het toe die werkers die dag af gevat het om na die munisipaliteit se kantoor te stap.
“Die staking het dienslewering tot stilstand geruk. Die handves van menseregte stipuleer duidelik dat almal die reg het tot ‘n omgewing wat nie skadelik tot hul welstand is nie. Hierdie rioollekkasies is beslis skadelik tot mense se welstand,” sê Aucamp.
Volgens Aucamp moes inwoners soos in die verlede weer die hulp van ‘n privaatkontrakteur ontbied om hulle by te staan en die dreine te ontblok.




