Vaal se musikale genie met ‘n talent vir skryf
Ontmoet een van die Vaal se opkomende sterre, Drikus Schoeman (23). Hy is besig om vinnig opgang te maak as operasanger en pianis.
VANDERBIJLPARK. – Drikus Schoeman beskryf homself as ‘n paradoks. ‘n Introvert wat dit geniet om voor gehore op te tree. ‘n Kreatiewe siel wat uitblink in syfers.
“‘n Plat op die aarde drama-queen. ‘n Operasanger met ‘tattoos’ en ‘piercings’.
“Ek was nog altyd ‘n handvol,” sug hy. Kleintyd het hy al geweet hy wil sing en musiek maak, maar sy eerste musiekonderwyseres het gesê hy is te hiperaktief.

Van skool het die jongman nooit gehou nie. Hy is met Aspergers, epilepsie, Lupus en outisme gediagnoseer en is baie geboelie. Tog het hy hom nog nooit deur enige iets laat onderkry nie.
“Ek is my ouers, Henré en Henriëtte Schoeman, ewig dankbaar. Ek beskou my ouers as Superman en Wonderwoman.
“Hulle het oor die jare soveel opgeoffer om seker te maak ek kry onder andere arbeidsterapie, spraakterapie en perdryterapie,” vertel hy rustig oor ‘n koppie koffie.
Drikus het aan die Hoërskool Driehoek matriek geslaag. “Op algemene kennis. Ek het geweier om huiswerk te doen,” verklaar hy.
Vir hom was huiswerk bloot ‘n mors van tyd. Hy het geweet wat is die antwoord en niemand kon hom oortuig om sy metodes te verduidelik nie. “As een woord ‘n antwoord gee, hoekom moet ek ‘n paragraaf skryf?”
In graad 11 het hy besluit om klavierlesse te begin neem, nadat kitaarlesse nie gewerk het nie.
Hy het geld om ‘n klavier te koop by sy pa geleen en met lesse begin. In drie jaar het hy die graad 7 klaviereksamens voltooi.

Hy het ook by me. Prudence Venter begin sanglesse neem en ook daar sy graad 7 eksamens geslaag.
Drikus was 21 toe sy pad met Suid-Afrika se bekende operatenoor, Coert Grobbelaar gekruis het.
Die het Drikus onder sy vlerk geneem en toe het alles vlamgevat. Verlede jaar was Drikus een van ‘n uitgelese groepie kunstenaars om by die befaamde doyenne van opera, Mimi Coertze se 90ste verjaardagvieringe op te tree.
Vandag lewe hy vir sy musiek. Nie net is hy tans besig met sy graad 8 in klavier en sang nie, volgende jaar gaan hy B.Mus aan die NWU in Potchefstroom swot.
Intussen tree hy gereeld by kunstefeeste en funksies op waar hy bekoor met sy musiektalent. Drikus verkies om klassieke werke op te voer en het ‘n passie vir die Duitse Kunslied.
“Volgens my is die kunslied die suiwerste vorm van sang en ook die moeilikste om uit te voer.
Die musiek is wiskundig geskryf en word liniër opgevoer. Geen beweging nie. Dis net die klavier en die sanger se stem wat ‘n storie vertel,” brei hy uit.
Alhoewel hy graag eendag by die operahuise in Europa wil optree, erken hy dat hy nog ‘n lang pad het om te stap.
“‘n Mens se stem is eers op 30 jaar volwasse en dan eers het jy genoegsame ervaring om die buiteland aan te durf.
“Elke operasanger se droom is om eendag ‘n solis te wees in een van die groot Eurpese kore. Dit vat baie ure se oefen en sweet om daar uit te kom.”
Drikus is doelgerig en gedetermineerd om sy drome te bereik. Hy staan elke oggend 05:00 op en spandeer die hele dag, en groot gedeeltes van die aand, om aan sy musiek te werk.
By konserte weet sy medekunstenaars al dat hy die een is met die sak vir gebeurlikhede.
“Ek het altyd alles van naald en gare tot by ‘n ekstra hemp by my, want by ‘n konsert gebeur daar altyd iets.
“Eenkeer het my broek geskeur net voordat ek moes optree, wel gelukkig het ek toe naald en gare byderhand gehad en kon ek die skeur vinnig toewerk,” lag hy.
Naas sy ouers, het hy ook baie waardering vir Elsabe Roussouw, Marina Minnaar en Lizette Combrink en natuurlik, sy mentor Coert Grobbelaar.
Hy het ook ‘n gawe om te skryf, te komponeer en stories te vertel. Onthou die naam Drikus Schoeman. Sy besondere kookpot van talente gaan hom nog ver bring.
