Local newsNewsNews

Bass Lake-vliegongeluk: Vlieënier vlieg blykbaar te laag

Die vlieënier van 'n ligte vliegtuig wat op 2 Januarie 2023 in Bass Lake by Henley on Klip neergestort het, het blykbaar te laag gevlieg.

‘n Voorlopige verslag wat deur die Suid-Afrikaanse Burgerlugvaartowerheid (BLO) uitgereik is bevind dat die vlieënier van die vliegtuig, Sean Russel (47), die vliegtuig, in stryd met burgerlugvaartregulasies, laer as 152.4 meter (500 voet) oor die water gevlieg het.

Die voorlopige verslag bevind dat Russel met sy besluit om laag oor Bass Lake te daal “die lewens van persone en eiendom in gevaar gestel het.”

Die ongeluk het die lewens van Russel, ‘n ervare toetsvlieënier by Sling Aircraft (Edms.) Bpk., sowel as dié van Dane Anthony Fourie (35), ‘n fotograaf, geëis.

Russel was volgens die verslag ‘n ervare vlieënier wat sedert 25 Augustus 2016 bykans 7 000 ure gevlieg het en ook helikopters kon vlieg.

Die Sling 4 Tsi-vliegtuig met registrasienommer ZU-PPA het Maandagmiddag 2 Januarie by die Tedderfield-lughawe in Eikenhof opgestyg met Russel en Fourie aanboord en sou weer by dieselfde lughawe land.

Alan Pepper, bestuurder by die Bass Lake-oord, en ander ooggetuies het omstreeks 16:15 gesien hoe die vliegtuig vanaf ‘n suidoostelike rigting ingekom en skerp oor Bass Lake gedaal het en toe twee keer op die water gebons het.

Volgens die burgerluugvaartowerheid se verlag is daar waargeneem hoe die vliegtuig met die eerste bonsslag die water met die agterste gedeelte van die romp, sowel as die wiele, getref het.

Die vliegtuig het ‘n tweede keer op die wateroppervlak gebons – ongeveer 100 meter van waar dit die eerste keer die water getref het – en toe is die neus van die vliegtuig in ‘n opwaartse rigting gedraai sodat die vliegtuig byna teen ‘n 90º hoek met die wateroppervlak gedraai was om ‘n botsing met die wal noordoostelike wal van Bass Lake te voorkom.

Daar is volgens die verslag waargeneem hoe die vliegtuig tot ‘n hoogte van 30 meter (100 voet) geklim het toe die regtervlerk glo gesak het en die vliegtuig na benede geval het.

Die vliegtuig het die water met die neus in ‘n afwaartse rigting getref.

Die Sling 4 Tsi-vliegtuig met registrasienommer ZU-PPA wat op 2 Januarie 2023 in Bass Lake by Henley-on-Klip neergestort het. Foto: Suid-Afrikaanse Burgerlugvaartowerheid
Die plek waar die vliegtuig in Bass Lake neergestort het. Die meer was voorheen ‘n oopgroef Dolomietmyn maar is omskep in ‘n oord waar mense watersport kan beoefen, visving, skubaduik en kamp. Foto: Google Earth

Die wrakstukke het glo binne 30 tot 40 sekondes nadat dit die water getref het onder die water verdwyn en tot op die bodem van Bass Lake afgesink.

‘n Swemmer en ‘n boot wat in die omgewing was wou help, maar hulle het nie duiktoerusting gehad nie en die wateroppervlak was in daardie stadium vol brandstof wat uit die vliegtuig gelek het.

Beide Russel en Fourie is noodottig beseer. Hulle lyke is later die aand deur polisieduikers uit die water verwyder.

Die wrakstukke is die volgende dag uitgehaal.

Volgens die verslag woon die eienaar van die Sling 4 TSi in Zimbabwe.

Die vliegtuig is op 9 September 2022 na Suid-Afrika gebring vir ‘n inspeksie wat op 16 September afgehandel is.

Die eienaar van die vliegtuig kon egter die vliegtuig na Zimbabwe terugvlieg nie aangesien die burgerlugvaartowerheid van Zimbabwe ‘n moratorium op Suid-Afrikaans gerigestreerde vliegtuie van hierdie soort geplaas het weens ‘n noodlottige vliegongeluk wat op 31 Mei 2022 in Harare plaasgevind het.

Gedurende die tydperk wat die vliegtuig in Suid-Afrika was is dit gereeld deur drie verskillende vlieëniers gevlieg.

Die vliegtuig is gedurende dié tydperk ondermeer na Mosambiek (29 September 2022 – 7 Oktober 2022), sowel as Botswana (14 November 2022) gevlieg.

Die eienaar van die vliegtuig woon in Zimbabwe. Die vliegtuig is op 9 September 2022 na Suid-Afrika gebring vir ‘n inspeksie wat op 16 September afgehandel is. Foto: Suid-Afrikaanse Burgerlugvaartowerheid
Sean Russel (47) die vlieënier van die vliegtuig wat in Bass Lake neergestort het. Foto: Verskaf
Dane Anthony Fourie wat in die vliegongeluk omgekom het. Foto: Verskaf

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button