Spesiale sorg vir serebraal gestremde kinders in die Vaal
Ouers met serebraal gestremde kinders word genooi om die skool te besoek en kyk wat die skool bied.

VANDERBIJLPARK. – Die June Nicholls Skool is vanjaar 54 jaar oud. Die skool het reeds in 1969 ‘n verskil in serebraal gestremde kinders se lewens begin maak en dié diens word steeds voortgesit.
Die skool is gestig deur mev. June Nicholls, wat met haar aftrede die leisels oorhandig het aan mev. Tilly van Schalkwyk. Laasgenoemde het op haar beurt met haar aftrede in 2021 die leisels oorgegee aan mev. Marti Steyn.
Die skool funksioneer as ‘n geregistreerde nie-winsgewende organisasie en word gelisensieer deur die Departement van Gesondheid. Dis geregistreer by die Departement van Onderwys as ‘n onafhanklike skool vir kinders met spesiale behoeftes.
Die skool beskik oor Artikel 18A status wat donateurs toelaat om belastingkorting op hul bydraes aan die skool te eis.
“Daar is tans 16 kinders wat die skool bywoon vanuit Sharpeville, Sebokeng, Boipatong, Bophelong, Evaton, Vereeniging, Orange Farm en Vanderbijlpark. Die kinders se ouderdomme wissel van 4 jaar tot 32 jaar oud,” vertel mev. Steyn.
Die personeel sluit in ‘n onderwyseres, vier versorgers, ‘n kok, die uitvoerende bestuurder, ‘n administratiewe persoon, twee busbestuurders en ‘n skoonmaker.
Daar is drie klassies waar die kinders volgens hul vaardigheidsvlak ingedeel word en hul daaglikse aktiwiteite word aangebied volgens ‘n program wat ontwikkel is in samewerking met die Departement van Onderwys se LSPID span.
“Die kinders ontvang ‘n bordjie pap as ontbyt, vrugte, ‘n sappie of mageu om 10:00 net voor pouse en ‘n voedsame middagete word daagliks aan die kinders voorsien.
“Ons poog om die ouers in te lig omtrent hul kinders se gestremdheid en hoe om dit te hanteer, deur inligtingsessies aangebied deur die Departement van Gesondheid,” verduidelik mev. Steyn.
Die skool worstel egter met probleme soos:
· Armoede en die uitwerking daarvan op hul finansies.
· Die subsidie wat vanaf die staat ontvang word dek slegs ‘n gedeelte van hul uitgawes en hulle is dus grootliks aangewys op die goedhartigheid van die gemeenskap vir donasies om die skool se bedrywighede te befonds.
· Die kinders wat die skool bywoon, kom hoofsaaklik uit baie arm huisgesinne wat deur enkelouers of grootouers bedryf word en skoolgeld, alhoewel dit slegs R450 vir 2022 per maand beloop het, word op ‘n baie ongereelde basis, of glad nie betaal nie.
· Kinders word dikwels skool toe gestuur terwyl hul erstig siek is en daar word van die skool verwag om medikasie aan hul te verskaf.
· Die skool het te min kinders.

Positiewe aspekte:
· ‘n Groepie lojale donateurs en ondersteuners in die Vaaldiehoek gemeenskap.
· 10 toegewyde personeellede met jare se ondervinding wat werklik vir die kinders omgee.
· ‘n Bestuurskomitee wat deur absolute toewyding die belange van die skool en van elke kind op die hart dra.
· Met elke kind se verjaardag word ‘n klein partytjie gehou waartydens die kind ‘n geskenkie ontvang wat deur ‘n weldoener voorsien word.
· ‘n Welbekende organisasie skenk in die winter baadjies of kombersies en in Desember ontvang die kinders geskenkies vir Kersfees.
Tydens die skool se jaarlikse Kerspartytjie besoek ‘Kersvader’ die skool om geskenke aan al die kinders uit te deel.
Die ongereelde inkomste van die subsidie, asook die swak ekonomiese toestand in ons land, veral na Covid, veroorsaak dat die skool finansieel sukkel om te oorleef.
Die grootste uitdaging is om die voedingsskema in stand te hou en lopende uitgawes, veral brandstof vir die twee bussies waarmee die kinders vervoer word, te dek.
Indien iemand of enige organisasie hulle weg oopsien om die skool op enige manier te ondersteun sodat hulle kan volhou om die diens aan die kinders te bied, sal dit baie waardeer word.
Die skool nooi belangstellendes uit om die skool te besoek.
Die skool versoek hulp van die gemeenskap om die lewe van die 16 kinders in hul sorg wat fisiek, sowel as intellektueel gestrem is, ‘n klein bietjie makliker en aangenamer te maak.
Bankbbesonderhede:
Rekeninghouer: Vaal Triangle Cerebral Palsy
Bank: Standard (Tjek)
Rekeningnommer: 02 186 7550

