ELCA vra hulp met verspringput
Lekker om te sien wanneer 'n veld, eens toe onder vuilgoed, nou vir 'n goeie doel aangewend word.
VANDERBIJLPARK. – MAN Energy Solutions South Africa (Edms.) Bpk geleë in CE6, is al vir jare bekend in die Vaal as ELCA Engineering.
‘n Paar jaar gelede het hul begin om die veld oorkant die aanleg skoon te maak en in stand te hou. Op daardie stadium is die veld as ‘n onwettige stortingsterrein gebruik.

Nadat ELCA se span begin het om dit skoon te maak, het van die omgewing se inwoners ook ingespring en gehelp.
Algou het die tieners in die omgewing daar begin sokker speel.
Onlangs het ‘n nabygeleë privaatskool, Oriah Pre- and Primay School, vir Russell Broodryk, operastionele bestuurder van ELCA genader en gevra of die skool die veld vir atletiekoefening kan gebruik.
Die skool het nie hul eie sportvelde nie. Aangesien die veld regoor die hoofingang geleë is, hou die sekuriteit ook sommer ‘n ogie terwyl die kinders oefen.
So gesê, so gedaan. Nou kan die atlete gereeld gesien word waar hul om die veld draf.
Die jong atlete oefen ook gewigstoot. Alhoewel daar nog nie ‘n amptelike sirkel is nie, gee die wit lyne darem vir die kinders ‘n aanduiding waar hulle moet gooi.

Daar word ook beplan om later netbalpale op te rig.
Die veld het al ‘n geruime tyd sokkerpale. Die skool se grootste behoefte tans is egter om hul eie verspringput te kry.
Russell sê hulle is bereid om te help en sal die regte afmetings by die skool kry. ELCA het egter nie ‘n ‘backacter’ (graafmasjien) om die put mee te grawe nie.
Hulle benodig ook die regte tipe sand om die put mee te vul. Indien enige besigheid in die gebied hiermee kan help, sal dit hoog op prys gestel word.
Kontak gerus vir Russell by 082 455 0491. ‘n Mens weet nooit, dalk is ons volgende Olimpiese verspringkampioen onder die spannetjie wat die verspringput nodig het.
