Kollegepark dra die Vaal vaandel by Super 12
Laerskool Kollegepark in Vanderbijlpark het 'n goeie Super 12 2022 seisoen agter die rug en sien uit na 2023.
VANDERBIJLPARK. – Laerskool Kollegepark is die enigste skool in die groter Vaal area wat deel is van die Super 12 Laerskole.
Super 12 is ‘n interprovinsiale kultuur- en sportkompetisie wat bestaan uit die top laerskole uit die noordelike provinsies.
Volgens hulle Facebookblad bestaan die kompetisie uit 24 skole wat in twee bene (Been A en B) verdeel is.
Die A-been bestaan uit skole wat 1200 leerders en meer het, terwyl die B-been uit kleiner skole bestaan.
Die provinsies wat deelneem is Gauteng, Noord-Wes, Limpopo en Mpumalanga.

Die 14 aktiwiteite waaraan die leerders deelneem bestaan uit atletiek, gholf, hokkie, krieket, landloop, netbal, rugby, skaak, swem, tennis, algemene kennis, Bybelvasvra, koor en redenaars.
Kollegepark neem aan al die sport deel, behalwe swem, tennis en skaak. Verlede jaar was hul ook bedrywig op die kultuur gebied in die Bybelvasvra en redenaarskompetisie.
Hulle kompeteer teen van die land se beste laerskole en is trots op al die leerlinge wat deelgeneem het.
Soos die skoolhoof, Mnr Coenie Herbst, altyd sê: “Alles gaan nie net altyd oor wen nie. Dit gaan oor deelneem en dat die kinders geniet wat hul doen.”

Onder die atlete het Peter Motoedi die beste gevaar en ‘n eerste plek in die 60m naellope behaal.
Linden le Roux het deurgedring na die redenaarsfinaal en verlede jaar se hoofseun, Janko Vrey het die septer geswaai in die finale rondte van die Super 12 Gholftoernooi.
Hy het 88 ander gholfspelers die spit laat byt.

Die skool is ook trots op hul meisieshokkiespan wat derde plek uit die 24 skole behaal het en die Bybelvasvraspan wat ‘n agste plek behaal het.
Al die Kollegparkers loop ekstra breebors rond want hul eie Mnr Coenie Herbst is tot die Super 12 direksie verkies.

Die skool beplan om hierdie jaar weer met hul talente te woeker in die onderskeie items en gaan ook vir die eerste keer die algemene kennis afdeling aandurf.
Ons wens hulle alle sterkte toe met al die oefening, leerwerk en wedstryde.
