Local newsNewsNews

Laerskool Parksig se oudhoof doen alles met oorgawe

Die voormalige hoof van Laerskool Parksig, Marina Martins is nou koffiewinkeleienaar. Lees meer oor die dinamiese vrou.

VANDERBIJLPARK. – Van skoolhoof tot koffiewinkeleienaar, wat ook al Marina Martins aanpak, sy doen dit met oorgawe.

Sy was vir 40 jaar deel van die lief en leed van Laerskool Parksig. Eintlik langer, want sy het ook ‘n gedeelte van haar laerskoolloopbaan by die skool deurgebring.

Nadat Marina matriek aan die Hoërskool Transvalia geslaag het, het sy onderwys aan die Potchefstroomse Onderwyskollege gaan swot.

Marina omring deur die dames die naaste aan haar hart. Tanisha Botha, Marina Martins, Gustelle Martins, Cornelia Botha, Shani Martins en Liané Mostert.

In 1980, pas gegradueer, het sy haar eerste onderwyspos by Parksig aanvaar.

“Ek het eers vir die graad 1’s skoolgehou en daarna graad 3”, vertel sy in hul koffiewinkel by Mediclinic Emfuleni.

Later jare het sy wiskunde en Engels vir die senior fase aangebied. Deur die jare is sy bevorder tot departementshoof en later ook adjunkhoof.

In Oktober 2010 het Marina een van die mees dinamiese hoofde in die skool se geskiedenis geword.

“Ek het nog altyd ‘n groot belangstelling in tegnologie gehad en het besluit om die aanwen­ding daarvan in die skool te ontwikkel,” onthou sy.

So het sy gesorg dat elke onderwyser ‘n skootrekenaar en televisie in hul klaskamers kry.

Al gou was Parksig ook die eerste skool met ‘n “tablet room” en programme op DVD wat die onderwysers in klastyd kon gebruik.

“So is die onderwysers bemagtig en die kinders se belangstelling behou. Dit was my nalatenskap aan die skool,” onthou sy met ‘n glimlag.

In die 10 jaar wat sy skoolhoof was het die Departement van Basiese Onderwys gereeld verteenwoordigers van groot skole soos Hoërskool Waterkloof gebring om te kom kyk hoe Parksig tegnologie toepas.

Marina het in 2020 afgetree, maar sê sy mis steeds haar personeel. “Ons was ‘n interkulturele span wat baie lekker saamgewerk het.

“Ek sou niks kon doen sonder my senior bestuurspan nie, hulle was my vriende, helpers, assistente, alles in een.”

Onder haar leiding was Parksig geken as een van die top skole in die distrik.

Hulle het ook ‘n spesiale voedingskema restaurant gehad waar die leerders daagliks kon eet.

Marius en Marina Martins met hul jongste kleinseun, Hugo.

Parksig het ook vir 10 jaar koning gekraai in meisies hokkie in die Vaal met haar swaer, Johan Botha, as afrigter.

“Ons het nie ‘n bussie gehad nie, en ek het menigmaal die kinders agter op die bakkie gelaai om hul by ‘n wedstryd te kry,” lag sy.

Marina wou van kleinsaf onderwyseres word en het baie goeie herinneringe van haar dae by Parksig.

Haar lewe was nie altyd maklik nie. Haar kinders was maar vyf en 11 jaar oud toe haar man in ‘n plaasaanval vermoor is.

Ten spyte van die groot hartseer het sy weer ‘n tweede kans op geluk gekry.

In 1995 was sy en die kinders by Hoërskool Vanderbijlpark se Straatfees toe een van die onderwysers op haar afpeil en sê: “Ek ken jou.”

Dit blyk toe Marius Martins te wees. Die twee het as sesjariges in dieselfde straat gebly alvorens Marina-hulle na die kleinhoewes verhuis het.

Hul paadjies het vir 27 jaar geskei tot daardie besondere aand in die lente van ’95.

Maartmaand sal hul al vir 27 jaar getroud wees. Marius het Marina se twee kinders as sy eie aangeneem en die egpaar het ook saam ‘n dogter.

Dan is hul ook die trotse oupa en ouma van drie kleinkinders, die jongste maar net ses maande oud.

Sedert haar aftrede was sy bedrywig op die plaas op die Fochville pad waar Marius geboer het.

Verlede jaar Augustus het hul egter die groot stap geneem om die koffiewinkel aan te skaf.

Alhoewel sy mede-eienaar van die gesellige restaurantjie is, verwys sy na haarself as Marius se persoonlike assistent.

Dis duidelik dat die twee baie lief is vir mekaar en mekaar goed verstaan.

Marina is bekend as ‘n toegewyde harde werker met visie, maar sy het ook ‘n sagte hart en straal ‘n deernis en empatie teenoor mense en dier uit.

Saggeaard met ‘n goeie sin vir humor wat die mense om haar se belange op die hart dra.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Check Also
Close
Back to top button