Basjan – goeie nuus na groot skrik
Dit gaan goed met onse Basjan na groot operasie.
VANDERBIJLPARK. – Basjan Kok sterk goed aan na sy kolostomie omkeringsoperasie op 8 Februarie.
Dit volg nadat die dokter die vorige week ‘n 10 cm poliep in sy derm ontdek het.
Daar is ‘n biopsie gedoen en die operasie is uitgestel. Na ‘n paar spanningsvolle dae kon Basjan se ma, Anita, die goeie nuus deel.
Die poliep was nie kwaadaardig nie. Die operasie is toe herskudeleer vir 1 Februarie.
Dit was die derde keer wat Basjan moes voorberei vir die groot operasie.
Die eerste keer het die staatshospitaal vergeet om die teater te bespreek.
Vandag beskou almal dit as ‘n bedekte seën want daarna het Nicoleen Harmse en haar span van UBee4Me ingespring om met fondsinsamelingsprojekte seker te maak hy kan na ‘n privaat hospitaal gaan.
Basjan was sowat drie ure in die teater en is daarna in die intensiewe sorgeenheid opgeneem.
Veral die eerste paar dae het hy baie seer gehad en die medisyne het hom naar gemaak.
Stelselmatig het sy infeksietellings begin val en het hy elke dag bietjie sterker geword.
Saterdag, 11 Februarie kon hy al vir vier ure in die stoel sit en het selfs ‘n entjie geloop.
Sondag, 12 Februarie het sy ma laat weet, Basjan mag vir die eerste keer 600 ml sap gedrink het.
Na verwagting sal hy nou na die gewone saal oorgeskuif word.
Alhoewel hy baie moeg is, bly hy positief en is hy dankbaar vir almal se boodskappe en gebede.
Lees meer oor Basjan Kok se verhaal hier.
