LA House of Hope bied veilige hawe vir huislose babas
Vir vier jaar gebeur daar niks, en Tessa het begin wonder of haar plan om huislose babas te "red", 'n mislukking sou wees. En toe, die aand van 8 Maart 2018 skree die alarm...
VEREENIGING. – Min mense sien kans vir die verantwoordelikheid om ‘n huislose hondjie of kat in te neem. Nog minder mense sien hul weg oop om ‘n ongewenste menslike baba in te neem en vir ‘n onbepaalde tyd te versorg.
Dis hier waar Tessa Mac Donald (35) van Duncanville van ander mense verskil. Sedert 2013 maak sy haar hart en huis oop vir babas wie se moeders hulle nie wil hê nie, of wie se omstandighede van so ‘n aard is dat hulle die baba nie kan behou nie. Haar liefdesdiens word heelhartig ondersteun deur haar man, Barry.
Alles het een oggend in 2013 begin toe ‘n tuinier by Tessa se kerk, op ‘n baba afkom. Die kleinding was snoesig in ‘n kombersie toegedraai en in ‘n karstoeltjie in die tuin agtergelaat.
“Wat ‘n skok vir ons almal. Nooit sou mens kon dink dat so iets hier in Duncanville kon gebeur nie. Sy was so ‘n ou klein lyfie; die dokter het ‘n ouderdomskatting gedoen en bepaal dat sy omtrent twee weke oud was. Sy het maar ‘n skrale 2.8 kg geweeg,” sê Tessa.
“Die voorval het my hart geroer. Ek kon nie toekyk dat so iets weer gebeur nie. Ek het gebid en baie tyd spandeer om navorsing te doen en uiteindelik na ‘n jaar kon ons die BabySaver laat bou.”
Dit is ‘n veilige ruimte waar mammas wat nie self na hul babas kan omsien nie, hul kind anoniem en in veiligheid kan agterlaat.
Vir vier jaar gebeur daar niks, en Tessa het begin wonder of haar plan om huislose babas te “red”, ‘n mislukking sou wees. En toe, die aand van 8 Maart 2018 skree die alarm…
“Antisipasie, angstigheid, ‘n koue gevoel wat ek tot vandag toe nie kan beskryf nie: Ek maak die kluis oop en daar lê die twee grootste ogies en kyk vir my. Sy het net ‘n doek, ‘n mussie en een kousie aangehad, met ‘n gehekelde kombers om haar. So het ons deur die jare nog sewe babas gekry; een aand sommer twee. Drie ure uitmekaar uit,” onthou Tessa.
Omdat daar min pleeghuise in die omgewing is, is haar Little Angels (LA) House of Hope intussen geopen, waar agtergelate babas versorg word totdat ‘n permanente tuiste vir elkeen gevind kan word.
Die mees onlangse baba het haar opwagting op 22 Desember verlede jaar gemaak. Tessa was besig met reëlings om een van hul babas wat ‘n huis gekry het, met ‘n hofbevel na die nuwe ouers te laat oorplaas toe die alarm weer afgaan en sy ‘n oproep van Sekuriteit Sonder Grense kry dat daar ‘n baba in die BabySaver is.
“Wanneer dit gebeur, kry ek nog steeds ‘n gevoel wat ek nie kan beskryf nie. Dit was ons derde baba in 2022. Ek kan nie vir een oomblik dink dat dit maklik vir ‘n mamma is om haar baba agter te laat nie, maar dit is hoekom ons hier is. Ons gee op ‘n weeklikse basis berading aan swanger vroue en 70% van die mammas besluit om hul babas met ons hulp en ondersteuning te behou. Little Angels Wall of Hope is dus nie net daar as ‘n alternatief vir mammas om hul babas in te plaas nie maar ons ondersteun ook mammas wat kies om hul babas self groot te maak,” sê Tessa.
Haar man, Barry, deel haar visie en saam-saam leef hulle die Bybelse opdrag uit om na ander in nood om te sien. Die egpaar het ‘n tweeling van hul eie, wat vanjaar in Graad 8 is, en is in die proses om ook ‘n kleuterseuntjie aan te neem.
* Little Angels is ‘n geregistreerde nie-winsgewende organisasie en bestaan uit die Wall of Hope, die House of Hope en ‘n kleuterskool. Nadere besonderhede oor die werksaamhede is beskikbaar by tessa@lawallofhope.co.za.



