Local newsNewsNews

Moord op 67-jarige: Seun, medepligtiges vas

Die polisie het bevestig dat die seun van die 67-jarige Charlotte Chrisine Fenn, wie se lyk Maandag 6 Februarie 2023 met skietwonde aan haar kop in 'n veld naby Redan gevind is, in hegtenis geneem is vir haar moord.

VEREENIGING. – Twee medepligtiges, wat glo huurders van Fenn was, is ook in hegtenis geneem en sal na verwagting op Woensdag 15 Februarie saam met die seun in die Vereeniging-landdroshof verskyn op aanklagte van moord en ontvoering.

Fenn, ‘n inwoner van Sonlandpark, is op Vrydag 3 Februarie deur haar kleinkinders as vermis aangemeld nadat sy spoorloos verdwyn het.

Fenn, wat tuindienste aan mense van die Vaaldriehoek lewer, is glo die laaste keer op 2 Februarie gesien toe sy in die R59-snelweg se rigting met haar wit Kia bakkie onderweg was.

Volgens kapt. Fikile Funda, ‘n woordvoerder vir die polisie in die Sedibeng-distrik, is Fenn se uitgebrande bakkie later op ‘n plaas naby Sasolburg gevind.

Kringtelevisie-beeldmateriaal wat later nagegaan is wys hoe Fenn se voertuig deur ‘n Opel Kadet-voertuig op die R59-snelweg agtervolg word voor haar dood.

Die voertuig behoort aan ‘n man wat by Fenn huur.

Die verdagte, sowel as Fenn se eie seun, wat ook saam met haar op die eindom bly, is in hegtenis geneem op aanklagte van ontvoering.

Fenn se liggaam is Maandag (6 Februarie 2023) by plotte in Redan gevind.

Volgens Funda het ‘n verbyganger ‘n swart sak naby McKay Estates en Redan opgemerk en onraad vermoed.

Die polisie is na die toneel ontbied waar hulle Fenn se liggaam aangetref het.

Sy is vermoedelik geskiet en het verskeie wonde aan haar kop gehad.

 Moordklagte is toe by die klagte van ontvoering gevoeg.

Na ‘n deeglike ondersoek en nadat bewysstukke ingesamel is, is ‘n lasbrief vir inhegtenisname van die eienaar van die Opel Corsa voertuig (wat Fenn se voertuig op die video agtervolg) uitgereik. 

Die huurder is weer in hegtenis geneem, hierdie keer saam met sy vrou.

Die twee verdagtes het  volgens Funda reeds vlugtig op Maandag 13 Februarie in die hof verskyn en sal blykbaar weer Woensdag 15 Februarie saam met die seun in die hof verskyn.

Die polisie het in ‘n verklaring Vereeniging se stasiekommissaris, brig. Ndaba, die speurders, VISPOL en sektorpolisiëring, alle eenhede in die Sedibeng-distrik, forensiese ondersoekers sowel as die beheeraanklaer bedank vir hul bystand.

Gemeenskapspolisiëringsforums en lede van die gemeenskap wat bystand gebied het is ook bedank.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button