Sprei jou vlerke saam met Rotary
Rotary se jeug uitruilprogram bied aan jongmense die geleentheid om ander lande en kulture te leer ken.
VANDERBIJLPARK. – Die Rotariërs se Jeug Uitruilprogram is weer in volle swang nadat die Covid-pandemie dit vir ‘n paar jaar gekelder het.
Die Rotary Klub van Vanderbijlpark het onlangs ‘n inligtingsaand vir voornemende uitruilstudente aangebied.
Die suksesvolle aand is deur vorige president, Jackie van Waveren en haar span gereël en is by Stonehaven on Vaal gehou.
Die saal was feestelik getooi in die vlae van die lande waar jongmense van die Vaal op korttermyn en langtermyn uitruilprogramme kan gaan.
Dit sluit Argentinië, Duitsland, Oostenryk, België, Denemarke, Frankryk, Indië en Nederland in.
Studente tussen 15 en 17 jaar kan aansoek doen om op ‘n korttermyn uitruil van ses weke te gaan of vir ‘n jaar.
Die uitruilprogram bied aan jongmense die geleentheid om meer van ander lande en kulture te leer, nuwe tale te bemeester en hul horisonne te verbreed.
Van die area se uitruilstudente wat onlangs teruggekeer het van onder andere Duitsland en Italië het hul ervarings kom deel, terwyl pre-Covid studente se video’s gespeel is van hoe die uitruilprogram ‘n positiewe invloed op hul lewens gehad het.
Jackie sê daar is tans ‘n behoefte aan gasteouers waar uitruilstudente van ander lande in Vanderbijlpark kan tuisgaan.
Vir meer inligting oor die uitruilprogram, asook om aansoek te doen om ‘n gasteouer te wees, kontak Rita Benecke by 084 250 2515 of besoek youthexchange.co.za.
