Bikers met goue harte span saam vir Bikers 4 Girlaz
Bikers van oraloor het Saterdag saamgetrek vir die groot Bikers 4 Girlaz projek. Lees meer...
VANDERBIJLPARK. – Bikers doen niks hallf nie. Bikers ja, die woord motorfietsryers voldoen nie aan die vereistes nie.
As bikers hul hart op iets gesit het dan word daar voluit gegaan tot die doel bereik is. Nie eens reën kan hul ontspoor nie.

Saterdag, 11 Februarie was die heel eerste Bikers 4 Girlaz gehou. Dit was die afsluiting van ‘n spesiale projek wat deur CMA Midvaal georganiseer is.
Hul president se vrou, Zelda Pieterse het maande gelede gesê dis haar droom om kinders se lewens te verander.
Net daar is die saadjie geplant en Jacké Labuschagne en haar span het die uitdaging aangevat.
Bikers 4 Girlaz is gebore. Met groot ywer is daar begin om sanitêre produkte vir skole in die Vaaldriehoek te organiseer.
Klubs van oral oor het laat weet hulle doen mee. Die oorhandigings en finale fondsinsamelingsdag is gereël vir 11 Februarie.
Die dag het nat aangebreek. Baie nat. Vroegoggend het die boodskap egter oor die WhatsApp groepe weerklink. “Ons gaan aan. Ons laat ons nie deur water stuit nie.”
‘n Groot groep bikers, van onder andere die Wesrand, Johannesburg en Pretoria het saam met die plaaslike klubs by die Blokhuis vulstasie op die R59 bymekaar gekom. Vandaar het hul saam na die Centurions MC klubhuis in Vanderbijlpark gery.

By die klubgronde het Jacké en haar span al van vroegoggend die nattigheid aangedurf om alles in orde te kry.
Verskeie stalletjies het hul ware vertoon en allerande lekkernye van warmbrakke tot koffiebekers is verkoop.
DJ Ben het die musiek verskaf. In die saal het ‘n groepie kinders, die jongste seker vyf, hard geoefen om Bernice West se ‘Lyfie’ te dans.
Soos die bikers hul weg na die terrein gevind het, het meer gazebo’s verrys en het die groot kuier begin.

Groot was die verrassing toe sanger Anton Myburgh opgedaag het terwyl sy bekende Biker Angel oor die luidsprekers weerklink het.
Dit was Anton se verjaardag en hy is op sy beurt weer verras met ‘n verjaardagkoek.
Die President van CMA GPN South West Chapter, Hadrian Smith, het nie net al die afkondigings hanteer nie, dit was ook sy verjaardag en hy is verras met ‘n koek en vrolike verjaardagwense.
Deur die loop van die oggend het nog sangers kom kuier, van Ricky Faber en Drickus Bezuidenhout tot by Anne-Marie, WinterZe, Landee, Leonardo en Ysterperdtert.

Die bikers het, ten spyte van die nat weer, die dag met geesdrif aangepak.
Daar is saamgesing, gekuier en gedans in die reën. Almal het mildelik bygedra vir die Bikers 4 Girlaz projek.
Jacké het laat weet hulle het Saterdag meer as R30 000 se sanitêre produkte ingesamel.
Die meeste van die produkte is reeds aan die skole oorhandig wat verteenwoordigers gestuur het. Die wat dit nie kon maak nie, sal hul produkte in die week ontvang.
“Ons kon 12 skole, ‘n kerk, ‘n kinderhuis en ‘n huis vir hawelose families help. Dit gaan ‘n reuse verskil aan die jongmeisies se lewens maak. Bikers 4 Girlaz is na dese ‘n jaarlikse instelling,” het Jacké beslis verklaar.

