Local newsNewsNews

Ek sê maar net…

RUBRIEK. - Oor groot skrik, windverskrikte hare en 'n dag saam met bikers in die reën.

RUBRIEK. – Sit ek laataand op ‘n Sondag en artikels skryf. In die sitkamer. Voor die TV.

Pla niemand nie. Volgende oomblik hoor ek ‘n gewel­dige slag neffens my. Ek gil.

Pastoor, die papegaai val amper van sy stok af. Verloor ‘n veer van skrik.

Kleinsus Antjie kyk gesteurd op waar sy by my voete in haar mandjie geslaap het. Baba Bessie vlieg regop op Oorlede Pa se leunstoel.

Ek maak eers seker my hart klop nog voordat ek na links kyk. Die groot muurhorlosie hang skeef.

Ma kom kyk waaroor is die bohaai. Ek lig die sware horlosie af en gaan bêre dit in die studeerkamer.

Nie tyd om te kyk wat was die oorsaak van sy skielike amper aftuimeling van die muur nie.

Dalk Oorlede Pa wat reken ek moet gaan slaap. Dis al na 22:00.

Maar ja, soos ‘n stout skoolkind wat huiswerk los vir Sondae, so sit ek gereeld op ‘n Sondag met die skootrekenaar aan en artikels skryf.

Weke gaan net te vinnig verby en dan kom ek nie by alles uit nie.

Gewoonlik kry ek darem ‘n artikel of twee op ‘n Saterdagoggend gepleeg, maar die Saterdag was ek geheel besig.

Lekker in die reën… Johan Cronjé, Anton Myburgh, Wayne Lendrum en Chantel Wolfaardt. Foto: Gerda Bruinette

Het myself in die reën tussen die bikers begewe. Was nogal ‘n belewenis.

Hoe hulle met oorgawe alles aanpak en hul doodeenvoudig nie steur aan die hemele wat bokant hul sluise oopgetrek het nie.

Ek het natuurlik algou soos ‘n verskrikte weerwolf in die nattigheid gelyk.

Enige vogtigheid in die lug en my hare begin regop spring en krul gesellig in alle windrigtings.

Ontembaar vrolik en baldadig bly daar is nie ‘n haardroër naby nie.

Ten spyte van my windverskrikte hare kon ek darem die nodige foto’s neem en my werk doen.

Die samehorigheid onder die bikers het my opgeval.

Ek het hoendervleis uitgeslaan toe die Centurions MC Vaal lede naderstaan nadat die organiseerders hul dank uitgespreek het vir die gebruik van hul klubfasiliteite.

DJ Ben het hul lied gespeel, Hardekole van Ricus Nel, Adam Tas, Bok van Blerk en Refentse.

Die lede het soos een man begin saamsing en toe staan die Dragons MC Vaal Triangle se lede nader en begin saamsing.

Nie gepla deur die reën nie. Saam, want bikers is ‘n familie. En die bikers van Saterdag het lang afstande op hul bikes afgelê om die dag by te woon.

Potchefstroom, Parys, Pretoria, Wesrand, Midvaal, Meyerton. Besondere dag saam met spesiale mense.

My Liewe Vriend was saam vir die dag en toe ek op ‘n stadium weer my pen laat val, my kamerasak soek en nie weet in watter sak my motorsleutel is nie, het hy plegtig die sak oorgevat en ‘n ogie oor my goed gehou.

Anders het ek seker weer die helfte êrens laat lê. Darem het ek die keer die kamera se kaart en battery onthou. Ek was nogal trots op myself.

My lewe op ‘n bike het ek nou nie gewaag nie, al was daar ‘n tent met ‘n motorfiets sonder ‘n voorwiel waarop mens ‘n gratis les kon kry.

Met my geluk val ek af en beland gesig eerste in die modder.

Het hoeka nog net eenmaal in my lewe my sit op ‘n motorfiets gekry. Dit was op ‘n kerkkamp en ons dominee het motorfiets gery.

Toe besluit hy summier ek moet nou agterop klim en ons ry op die kampterrein rond. Hy het nie vinnig gery nie, maar ek was erg benoud.

Geagte dominee wou hom pap lag. Ek verkies maar my voete stewig op die grond.

Sal dit op my ‘bucket list’ sit. Dalk waag ek dit op ‘n bike vir my 60ste verjaardag, wat gelukkig nog amper twee hande vol ver is. Sela!

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button