Tropiese sikloon “Freddy” kan moontlik nóg reën na SA bring
Weervoorspellers en inwoners van die noordelike dele van Suid-Afrika hou duime was dat 'n tropiese sikloon genaamd “Freddy” verby Suid-Afrika sal hou.
Die Suid-Afrikaanse weerdiens het in ‘n verklaring gesê die oorblyfselfs van dié tropiese sikloon – wat tans oor die Indiese Osean beweeg en in die omgewing van die eiland Mauritius is -kan moontlik op die noordelike gedeeltes van Suid-Afrika afstuur.
Indien die oorblyfsels van die sikloon oor die noordelike gedeeltes van Limpopo beweeg kan dit volgens die weerdiens “aansienlike reënval” en die moontlikheid van “ernstige oorstromings” in die noordelike dele van die land tot gevolg hê.
“In die lig van onlangse (onverwante) oorstromings wat laasweek Limpopo en Mpumalanga geaffekteer het kan enige hernude vloede in dié omgewings katastrofies wees,” lui ‘n uittreksel uit die weerdiens se verklaring.
Die weerdiens sê en rampbestuurspanne monitor die sikloon 24 uur per dag en sal gereeld opdaterings oor die situasie gee.
Daar word in hierdie stadium verwag dat die sikloon moontlik teen Vrydag (24 Februarie) in Mosambiek aan wal sal land en dat die oorblyfsels van die sikloon noordwaarts oor Zimbabwe of oor die noordelike dele van Limpopo sal beweeg terwyl dit stelselmatig oor droeë land verswak.
Oppervlaktemperature in die Mosambiekse kanaal (tussen Madagaskar en Mosambiek) is volgens die weerdiens tussen 28º C en 29º C en kan moontlik tot ‘n intensifikasie van die sikloon lei sodra dit oor Madagaskar beweeg het, soos wat die geval met tropiese storm “Cheneso” was.

