Basjan is tuis na groot operasie
Operasie was suksesvol. Fondsinsameling vir behandeling gaan voort.
VANDERBIJLPARK. – Basjan Kok is 21 Februarie ontslaan na sy suksesvolle kolostomie omkeringsoperasie op 8 Februarie.
Dit gaan goed met hom. Soos altyd is hy positief en gereed vir ‘n grappie of ‘n glimlag.

Nicoleen Harmse van Ubee4ME wat die fondsinsamelingsprojekte bestuur het laat weet daar word nog heelwat fondse benodig om al die rekeninge te dek asook verdere nasorg.
Die nie-winsgewende organisasie het verlede jaar ingespring en oor die R240 000 ingesamel sodat Basjan na ‘n privaat hospitaal kon gaan.
Dit was nadat hy in 2021 ernstig in ‘n motorongeluk beseer is en ‘n kolostomiesakkie gekry het.
Die omkeringsoperasie moes middel verlede jaar al plaasvind, maar die staatshospitaal het nie die teater bespreek nie.
Dit toe wat Nicoleen Harmse en haar span ingespring het om fondse in te samel.
Basjan is ‘n student aan die NWU en het ten spyte van sy beserings verlede jaar hokkie vir die universiteit gespeel en verskeie skolespanne afgerig.
Daar gaan op 4 Maart ‘n aanlyn vendusie gehou word. Vir meer inligting besoek gerus die Facebookblad Basjan’s Colostomy Reversal en kliek op events.
